-Denise Ohlson-
Saterdag 12 Julie was ‘n vrolike dag met die besoek van die RSG ateljee aan Prince Albert. Derrich Gardner, bekend vir sy program Brekfis met Derrich, het in lewende lywe by die Saterdagmark kom uitsaai en met talle Prince Alberters onderhoude gevoer. Nadat burgemeester Magdalena Benjamin die hele Suid-Afrika oor die lug welkom geheet het in ons pragtige en gasvrye dorp, het mede-aanbieder Johnny Davids die twee musieksterre wat saamgekom het om toehoorders te vermaak, voorgestel. Jennifer Zamudio en D’Low (Boompies) het hulle met oorgawe op die verhoog uitgeleef.
Kallie Erasmus het RSG luisteraars vertel hoekom Prince Albert so ‘n spesiale dorp is, Susan Perold het aan die wye wêreld verkondig dat die heerlike SoetKaroo wyn wat sy en haar man Herman hier in ons hoofstraat maak, saam met baaaie opofferende liefde en vertroeteling in die bottels beland… Ellen Joubert het trots vertel van die Herwinningsprojek wat pas op die been gekom het en waarvoor daar hard saam met die munisipaliteit gewerk word om te bewys dat ‘n klein dorpie soos ons die saak suksesvol kan bestuur.
Sue Milton-Dean het ‘n beurt gekry om te praat oor haar Renu-Karoo kwekery waar sy saad kweek om die veld te hervestig en Doringbome plant om volhoubaar brandhout te voorsien. Barbara Gorniak was die kundige wat rondom die eiendomsmark raad en kennis uitgedeel het, en dat Karoovleis en biltong spesiaal is en ‘n besonderse lekker smaak het, kon vleiskenner Elise van der Merwe aan die land bevestig.
Oor ons historiese huise en haar insiggewende staproete kon Lydia Barrella met gesag praat en oor ons sterreprag en die toere wat hy aanbied, was Hans Daehne besonder welsprekend. Kunstenaar Christine Thomas het ook geleentheid gekry om Suid-Afrika te vertel van haar Rooikamp-uitstalling by die plaaslike museum en ook oor die reeks skilderye wat sy gemaak het van die Raaisels van Gamkaskloof.
Dit was ‘n besonder suksesvolle program en Derrich Gardner – en sy luisteraars - is goed geïmponeer met ons voortreflike dorp. Dat hy met tonne Swartberg-foto’s terug is huis toe, spreek boekdele.
Thursday, July 31, 2008
RSG in Lewende Lywe
Posted by
Prince Albert Friend
at
7:22 PM
0
comments
Labels: RSG
Sunday, June 29, 2008
RSG kom Prince Albert toe
Die SABC-radiostasie, RSG, kom op Saterdag, 12 Julie, Prince Albert toe. Die program, Brekfis met Derrich, word dié oggend van 10h00 tot 12h00 vanaf die Môremarkie uitgesaai. Saam met die aanbieder, Derrich Gardner, sal die omroeper, Johnny Davids, vir ‘n onvergeetlike oggend sorg. Die geliefde sangeres, Jennifer Zamudio, en hip-hop ster, D’Low, gaan ook optree.
Stasiebestuurder, Magdaleen Kruger, sê buite-uitsendings soos dié is ‘n kans om eerstehands kontak te maak met luisteraars en moontlike nuwe luisteraars aan die radiostasie bloot te stel. Sy sê benewens die Karoo, gaan RSG verskeie dorpe in die Noord-, Oos-, en Wes-Kaap, asook Namakwaland, besoek vir buite-uitsendings van programme soos Brekfis met Derrich, Oggend op RSG, Sê Wie, Tjailatyd en Praat Saam. Intussen word ook druk gewerk vir die Gariepfees in Kimberley in Augustus.
Posted by
Prince Albert Friend
at
9:39 PM
0
comments
Labels: RSG