Prince Albert, ons pragtige dorpie aan die voet van die Swartberg, is ‘n toonbeeld van ou-wêreldse sjarme met sy Victoriaanse huise, skoon, breë strate en rustige atmosfeer. Stap jy in die museum in, sien jy die pragtigste meubels uit die Victoriaanse tydperk. Ons dorp is mos darem na koningin Victoria se man vernoem, dus het die Victoriaanse tydperk letterlik en figuurlik sy merk op ons dorp gelaat…
Vanoggend is ek, baie gepas, besig om klere en bybehore uit die Victoriaanse tydperk uit te pak en te kyk wat is nog geskik vir uitstalling. Ek besluit om meer inligting oor dié era in te win, skakel vir Reinie by die biblioteek, en kom op baie interessante feite af.
Mans én dames, geklee in hul Victoriaanse klere, was ‘n toonbeeld van wie jy was, hoe jy geleef het, hoeveel geld jy in die bank gehad het en ja, selfs jou ouderdom, kon volgens jou kleredrag bepaal word! Vir die ryk dames was daar egte sykouse, terwyl vroue uit die werkersklas met wol sokkies tevrede moes wees. Vrouens se bene moes te alle tye bedek wees, óf met swart kouse en lang rokke waarmee jy behoorlik die vloer kon skoon vee, óf soos later in die eeu, met lang broeke. Mans is darem toegelaat om hul maermerries te wys.
Stel jou voor: Jy is in jou pragtige Victoriaanse swemdrag geklee, reg vir ‘n dag op die strand, maar o wee, jou hele liggaam is met meters en meters materiaal bedek. Een enkele stukkie van jou mag darem kaal wees, jou arms! Swemkeppe was ook ‘n “moet” vir mans en dames.
As jy ‘n sambreel besit het, het jy sommer een stappie hoër op die sosiale leer gestaan. Die rykes het hul eie sambrele besit, terwyl die middelklas maar een moes gaan huur as dit na reën lyk. Die korrekte drag het natuurlik ook die dra van ‘n oogglas vereis. Dit het egter niks met swak sig te doen gehad nie, nét die raam is gedra. Geen uitrusting was ooit volledig sonder ‘n wandelstok of kierie nie. Van hierdie kieries het selfs versteekte kompartemente gehad waar parfuum en ander noodsaaklikhede gebêre kon word.
Modes het van regaf rompe tot hoepelrokke verander en later het dit plek gemaak vir die “bussel”. Nét een item het gedurende hierdie era ‘n móét in elke vrou se kas gebly: die korset. Vrouens wat flou val, was ‘n algemene verskynsel. Hoekom? Die korset, natuurlik! Vir die jonger dames was dit amper verpligtend om dieselfde middel-mate as hul ouderdom te hê. Is jy 17 jaar oud, dan mag jou middeltjie ook nie meer as 17 duim wees nie. Glo dit of nie, maar mans wat ‘n bietjie te veel om die lyf gehad het, is ook in ‘n korset ingewurg, veral vir deftige geleenthede!
Die ouer garde het statig in satyn, sy en swaar fluweel uitrustings gelyk, terwyl die jonger geslag veel ligter materiale gekies het. Ragfyn gaas rokkies, versier met blomme en lint, is net een keer gedra om ‘n voornemende eggenoot se oog te vang, daarna is dit weggegooi! Hoede het gewissel van groot, ryklik versierde gedoentes, tot klein, knap goedjies, maar áltyd was die vere, blomme, lint en die pragtigste kant teenwoordig.
Die uitdrukking: “Die vere maak die voël”, was meer van toepassing op die Victoriaanse tydperk, as enige era voor, óf daarna.
Debbie Badenhorst
No comments:
Post a Comment