23 April 1926 – 18 September 2008
- Hennie Pretorius -
Ek kyk nog soms straat-op om te sien of oom Jan en Jessica nie in aantog is nie – oom Jan met sy wonderlike hinkstappie en die poedeltjie ewe neus-in-die-lug.
Vandat oom Jan weg is, bly Bokser die papegaai by ons. En my ingedagte straatkykery is eintlik net moontlik terwyl Bokser ‘n bietjie dut, want terwyl Bokser wakker is, is oom Jan as’t ware by my en Elsofie aan huis. Bokser is eintlik “Bokser Booyens, telefoon drié drié drié sés ágt.” Dis altans hoe hy hom aan ‘n mens voorstel.
Die kêrel is ‘n diep denker; ‘n ekspert as dit kom by sonneblomsaad en vingerbyt; hy praat en fluit nés oom Jan en hoes op aanvraag.
Hy is ook ‘n luidrugtige bron van tong-in-die-kies vermanings: Jy raas! Eet jou kos! Jy’s ‘n morsgat, né!
En nes oom Jan, ‘n koelkop raadgewer. So gebeur dit dat ek (nogal dikwels) my lot by hom bekla as Elsofie (en/of haar vriendinne) my lewe interessant kom maak het.
Nes oom Jan luister hy gewoonlik met groot empatie na my treurmares, want hy ken sekerlik ook die vroulike geslag – en dan oordink hy die saak ‘n bietjie, en dan sê hy (met groot deernis): “Kom, kom ons gaan piepie.”
Ek groet, Jan Booyens. Jy het ‘n leemte gelaat in Leebstraat, maar jy het nog altyd ‘n sê hier in die Pretorius-huis.
No comments:
Post a Comment