Die spreekwoord sê: “Elke huis het sy kruis.” Ek wil byvoeg: “…en ‘n spook!”
Die gebou waarin Fransie Pienaar se versameling gehuisves word, was vanaf 1906 tot 1951 die gesinswoning van die Haaks. Gedurende April 1957 word dit Prince Albert se eerste hospitaal. In 1982 trek tannie Fransie met haar kosbare versameling na die gebou.
Ten minste een keer per jaar stap ‘n blondekop dame van Kuilsrivier in die museum in, betaal haar ingangsfooi en beweeg dan onmiddellik na die Porseleinkamer om haar spook te gaan groet! Ek ken nou al die ritueel en stap maar net geduldig agter haar aan en wag…
Gewoonlik gaan staan sy so ‘n rukkie stil asof sy wag vir ‘n sekere gewaar-wording of gevoel om oor haar te spoel. Na ‘n paar minute sal sy dan met my begin praat en verduidelik dat die spookvrou in ‘n lang swart rok geklee is, dat haar swart kappie feitlik haar hele gesig bedek en dat sy ‘n pragtige wit “broderie anglaise” voorskoot aan het.
Opgewonde sal sy dan vir my beduie (asof ek enigiets kan sien!) waar sy nou staan, en dat sy nou na die Babakamer (so genoem uit die hospitaaldae) toe beweeg! Sy sal nog byvoeg dat die spookvrou oor iets buk of lank op een plek stilstaan.
‘n Moontlike verklaring vir die spook-vrou wat dan konsuis die heeltyd tussen die twee aangrensende vertrekke rond beweeg, is dat sy waarskynlik in dié gebou gesterf het. Wie weet, dalk het sy destyds ‘n baba hier agtergelaat wat deur iemand anders versorg en grootgemaak moes word.
Nog ‘n moontlike verklaring vir die spookvrou wat nie tot rus kan kom nie, is dat sy dalk haar baba in dié gebou aan die dood afgestaan het. Die twee vertrekke waar die spookvrou rond beweeg, was tog destyds die Kraamsaal en Babakamer van die hospitaal.
Die vraag is net: Het hierdie dame van Kuilsrivier ‘n spesiale gawe ontvang om dwalende geeste te “sien”, óf, is dit sommer maar net haar ryk verbeelding wat met haar parte speel?
Al wat ék weet: Volgende jaar dié tyd, stap die blondekop weer hier in om haar spookvrou te kom groet!
Debbie Badenhorst
No comments:
Post a Comment