- André Jaquet -
Nou die dag het ek ‘n draai by ons Prince Albert Polisiestasie gemaak en ek kon net nie verstaan hoekom ek skielik so senuweeagtig begin voel het nie. Liewe leser, u moet verstaan dat toe hierdie ou toppie jonk was, was die polisiestasie maar dikwels ‘n plek waar lelike dinge gebeur het en wat ‘n mens liewers moes vermy.
“Nou toe nou!”dink ek. Ek het niks verkeerd gedoen nie en is ook nie hier om moeilikheid te maak nie. Inteendeel – ek is deur die Vriend gevra om ‘n onderhoud met Inspekteur Hannes van der Westhuizen, Hoof van Sigbare Polisiëring te voer. Maar tog... .
Binne sekondes is ek gerusgestel deur die groot man met ‘n oop gesig wat my groet en vra hoe hy my kan help. Hy vra my ook om hom op sy voornaam te noem. My eerste indruk is baie goed: dis ‘n groot, sterk man wat fiks lyk (hy het slot vir Noord-Oos Kaap gespeel). Met hierdie man sal ek padlangs kan praat.
Hy luister aandagtig en antwoord openhartig en glad nie soos die stereotipe van ‘n staatsamptenaar wat tee drink en ginnegaap nie. Ek kry die gevoel dat ‘n mens nie hierdie man se tyd moet mors nie. As sy foon lui, vra hy om versko-ning, luister na die probleem en gee opdrag dat een van sy kollegas onmiddellik sekere aksies neem.
Ek vra hom eers uit oor hierdie nuwe ding met die naam van ‘sigbare polisiëring’ waaroor daar so baie in die dorp gespekuleer word en waaroor baie inwoners bedenkinge het. Dit veral na die uitsprake deur President Zuma oor hardhandige optrede teen enige misdadiger. Hy glimlag en verduidelik dat ‘sigbare polisiëring’ bloot ‘n nuwe omskrywing is van die werk van alle polisieamptenare wat ‘n uniform dra. Ek verstaan wat hy bedoel: ek was self staatsamptenaar en weet dat ons dikwels ‘n nuwe beskrywing vir ‘n amp ontwerp het om die departement goed te laat lyk.
Hy brei uit deur te verduidelik dat hy en die manne en vrouens waarmee hy werk een hoofdoel het: om te probeer verseker dat elke inwoner en kind, asook elke besoeker in ons area, vrylik sonder vrees deur ons strate kan loop, dag en nag. “Om dit reg te kry, probeer ons om die volgende hoofareas aan te spreek”:
- Drank- en dwelmmisbruik
- Geweld en aanranding in die huis wat om en by 50% van die klagtes is
- Huisbrake vir geld, drank en kos, meestal deur jong kinders
- Beskerming, nie net van ons inwoners nie, maar ook van besoekers
“Werk hierdie plan, en is daar al suksesse behaal?” vra ek. Hannes wys my daarop dat daar beslis ‘n merkbare afname in kriminaliteit in ons area is maar dat hy nog nie tevrede is nie. “Ek is veral bekommerd dat dwelmhandelaars al hoe meer jong kinders by die vervoer en verkoop betrek. Ons het selfs ‘n kind van 10 jaar gevang”.
Hy verduidelik ook dat die man op straat die polisie kan help deur openhartig te gesels. “Ons het goeie samewerking met die Gemeenskapspolisieforum wat deur David Rennie gelei word en dit is ‘n baie goeie begin. Soos by alle departemente moet ons aan ons begroting en mannekrag sny en dit gaan baie help as ons van nou af op die oë en ore van die gemeenskap kan staatmaak. Dit help ons om ‘n profiel van elke insident op te stel en probleme op te los”.
Ek vra hom toe hoe hy ons gemeenskap so goed verstaan, want hy ken ons probleme. Hy lag en sê dat hy in Victoria-Wes gebore is en dat hy tussen 1989 en 1997 daar gewerk het, voor sy oorplasing na Prince Albert.
Die kundigheid en benadering van ons hoof van sigbare polisiëring is vir my baie sigbaar, en daarom sal ek met nog meer gemoedsrus vanaand kan slaap!
No comments:
Post a Comment