Showing posts with label Christelike Perspektief. Show all posts
Showing posts with label Christelike Perspektief. Show all posts

Tuesday, March 31, 2009

Christelike Perspektief

- Reinie Smit -

Met Paastyd wat voorlê, raak ons weereens bewus van die groot rol wat die Here regtig in ons lewens speel. Daarom wil ek vir ‘n oomblik stil word en die volgende belofte (uit “Daaglikse Woord”, Julie 2007) met julle deel. Dis teen ons yskas vasgeplak, en elke keer as ek dit lees, bid ek “Here, help my asb om dié belofte my eie te maak.”

‘n Belofte
En nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.
- Gal. 2:20 -

Vandag belowe ek U, Heer,
Om sterk te wees, sodat niks my gemoedsrus kan versteur nie.
Om oor gesondheid, geluk en hoop te praat met almal wat ek teëkom.
Om my vriende te laat voel dat daar iets moois en goeds in hulle is.
Om altyd die sonnige kant te sien en optimisties omtrent die lewe te wees.
Om net oor die beste te dink, die beste te doen en die beste te verwag.
Om net so bly oor die sukses van andere te wees as oor my eie.
Om die foute van die verlede te vergeet en na groter sukses in die toekoms te streef.
Om soveel tyd daaraan te bestee om myself te verbeter, dat ek geen tyd oor het om andere te kritiseer nie.
Om te sterk te wees vir vrees, te sag vir woede, en te gelukkig vir kommer.
Om elke dag my hart in gebed oop te maak, sodat Christus in en deur my kan werk en straal.

Saturday, May 31, 2008

My Christelike Perspektief

- André Jaquet -

Hoe hanteer 'n mens enige konflik hetsy tussen mense, in die huis, by die skool, by die werk of elders? Daar is 'n magdom van verskillende konflikte wat maklik ontstaan maar min wat maklik bevredigend opgelos word. Ongelukkig is die geaardheid van die mens so dat ons vinnig opgewonde raak en moeilik toegee.

Die goue reël vir oplossing van sulke moeilike situasies is dat elkeen die ander persoon ernstig opneem en probeer verstaan wat agter dié persoon se standpunt lê. Dikwels verg dit 'n onpartydige bemiddelaar. En hoe doen 'n mens dit? Dit is makliker gesê as gedaan.

In sommige situasies is dit gerade om klein stappies in die regte rigting te probeer maak om versekering en vertroue stadig maar seker op te bou.

Met ander woorde om, soos die Bybel sê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Matt 7:12). Dit is ook wat die Tora en die Koran vir ons sê.

Ons as Christene hoef nie vêr te soek vir ons bemiddelaar nie! Ons Here, Jesus Christus, het ons uitgenooi om Hom as ons bemiddelaar te laat optree.