Showing posts with label Landbou Nuus. Show all posts
Showing posts with label Landbou Nuus. Show all posts

Friday, August 31, 2007

Landbounuus

Die afgelope maand het Agri-Weskaap sy Jaarkongres te Goudini gehou. In georganiseerde landbou is hierdie die jaarlikse hoogtepunt. Almal wie iemand is, is daar... Vier van die P.A.Lbv se bestuurslede het hierdie geleentheid bygewoon. By hierdie kongres word landbousake in streeks- en landsbelang bespreek. Besprekings word onder vier katagorieë behandel, nl: (1) Sosiale en maatskaplike ontwikkeling onderbou tot suksesvolle deelname van die landbousektor aan groei en ontwikkeling; (2) Bemagtigingsgeleenthede in die Landbousektor; (3) Loopbaan-geleenthede in die Landbou en (4) Beeldbou geleenthede.

Vervolgens ‘n kort bespreking van elk. (1) Die landbousektor bestaan uit landelike gemeenskappe en dorpe. Elkeen bestaan uit gesinne wat ‘n geborge omgewing moet skep waarvan gesonde gesinswaardes die basis vorm. Almal is bekommerd oor die jeug, maar watter soort voorbeeld stel bakleiende, dronk ouers aan ons kinders? En as daardie klein mensie in die kas kom krap vir kos en daar is niks omdat alles vir drank gebruik is? Wie moet die voorbeeld stel? ‘n Ware voorbeeld: op ‘n plaas in die distrik werk ‘n goeie arbeider, maar hy het ‘n drankprobleem. Sy werkgewer wil hom na ‘n reabilitasiesentrum stuur, maar hy weier om te gaan. As gevolg van sy probleem het hy sy werk bedank eerder as om hulp te aanvaar. Dit moes glad nie gebeur het nie.

(2) Alles dui daarop dat die gesloer met grondhervorming voor die deur van die regering gelê moet word. ‘n Man het opgestaan en gesê: Die regering moet die landbou uitlos en hierdie saak sal vinniger en met groter sukses bygelê word. Die geleenthede is daar - vir die wat kan en wil!

(3) In hierdie verband is drie dinge belangrik, nl. opvoeding, opleiding en vaardigheidsontwikkeling. Nou, al hierdie dinge word reeds gedoen, maar sodra iemand op ‘n kursus was, verlaat hy/sy die plaas/landbou om iewers elders sy nuutgevonde kennis te gebruik, in plaas daarvan dat hy/sy hulle kennis terugploeg in die boerdery waar hulle betrokke is. Hierdie is die mense wat aangewys kan word as kandidate vir grondhervorming en AgriSEB. Ongelukkig sal hulle dit nooit beskore wees as hulle “die hand byt wat hulle voer nie.” Lojaliteit teenoor diegene wat vir jou ‘n geleentheid bied, word vergoed op maniere wat geld nie kan koop nie.

(4) Wit, bruin en swart se intensies is ons beeld. Mense vorm ‘n opinie oor jou voor jy nog jou mond oopgemaak het. Dis in jou houding.

‘n Ryk en welvarende landbou kan meer bydra as ‘n sukkelende een.
(Corwyn Botha).

Almal verwag die boere moet net gee en gee. Wanneer kry hulle iets terug? Het dit nie tyd geword dat die boer erkenning kry vir wat hy probeer doen en elke dag steeds doen nie? Na ‘n radiogesprek van ‘n landbouekonoom is tot die slotsom gekom: beskerm en ondersteun die Suid-Afrikaanse boer en sy produk en hou hom op sy plaas of die huisvrou gaan binnekort langs die straat staan en wag dat ‘n sak meel van ‘n vragmotor afgegooi word.

Dit is inderdaad soos een van die sprekers gesê het: “ons het nie ‘n minister van landbou nie.”

Al die bogenoemde in ag geneem kan ‘n boer vandag nie anders as om deel te wees van georganiseerde landbou nie. (Ek gee nie om wat jou verskoning is nie, jy maak net die lewe vir jouself en jou medeboere ondraaglik.) En dan is daar steeds nog boere wat vra: “Nou wat doen georganiseerde landbou vir my?” Meneer, jy ding mee in ‘n omgewing wat veel wyer strek as jou plaas se grense.

Kom sluit aan by die Beste Landbouvereniging in die Wes-Kaap, los die nietige verskille en staan saam. Kollektief het ons ‘n sê, alleen sit jy sonder ‘n plaas.

Landbougroete
Jacques du Plessis
082 3313 961

Saturday, July 28, 2007

Landbou nuus

Die afgelope ses maande was nie sonder opwinding nie. Prince Albert Landbou Vereniging het weer soos laas jaar relevante sake in vergaderings aangespreek. Ons het ook ‘n paar nuwe lede bygekry. Vergaderings word so gestruktureer dat elke boer daarby baat vind, ongeag sy boerderyvertakking.

Gereelde maandvergaderings word soms vervang met boeredae waar lede op ‘n praktiese manier inligting bekom. Ons besoek mekaar se plase en gee raad aan mekaar op persoonlike vlak.

Lede kry ook die geleentheid om met kundiges wat op sulke dae teenwoordig is, te gesels. My persoonlike ondervinding is dat ‘n mens meer leer op die manier as wat jy ure sit en luister.

In die begin van die jaar is ‘n Besproeiingsdag aangebied. In Maartmaand het ons ‘n Kleinveedag aangebied met die volgende kundiges: Dr Philip Botha van Outeniqua Proefplaas oor aangeplante weidings; Dr Sue Milton-Dean oor korrekte bestuur van natuurlike weiveld (bewarings-ekologie); Charl du Plessis, landbouvoorligter, oor veeproduksie; Dr Hannes van der Merwe oor wolvesel verwerking. Selfs die veeboere het iets geleer.
In Meimaand het ons ‘n Steenvrugtedag aangebied, weer eens met kundiges van buite. Daar was baie vrae en bespreking rondom wintersnoei wat nou begin; Andrew Hacking het ons bietjie herinner aan die basiese beginsels. Die jongste beskikbare bedryfsyfers was ook onder bespreking, en dit het beroerd gelyk om die minste te sê; Jacques du Preez van die OABS was hier die man met die syfers.
In die onderskeie bedryfsvertakkings moet al hoe meer gemeganiseer en arbeid tot die minimum beperk word om produktiwiteit te verhoog. Hoekom sukkel met swak arbeid as jy goeie masjiene kan gebruik teen heelwat laer koste? Dit is ongelukkig die rigting waarin ons gedwing word in vandag se omstandighede. Voorbeelde hiervan is kanonspuite wat self loop en stop (geen meer spuite wat geskuif word nie), terwyl ander werk in dieselfde tyd gedoen word. Elektriese skaapskeermasjiene, krane wat met radioseine oop en toe gaan, mikrospuite en druppers wat nie verstop nie; (Johan Swart van Agriplas het ons kom vertel van die nuutste op die besproeiingsfront). Trekkers het nie eens meer bestuurders nodig nie, want sateliete word gebruik om hulle in die regte rigting te stuur.

Kommersiële landbou is in ‘n oorlewingstryd gewikkel. Insetkoste skiet die hoogte in op elke terrein van boerdery en die inkomste krimp. Ons ding mee met kommersiële boere in ander lande wat nie weet wat dit is om sonder subsidies te boer nie. . Nou ontstaan die vraag: watter kans het opkomende boere om hulle op plase te kan vestig in hierdie ongenaakbare globale omgewing en dit ten spyte van regeringshulp?

Wonder bo wonder bly die boere op ‘n snaakse manier positief. Dit is mense wat nie weet van “gaan lê” nie; moed opgee bestaan nie in ‘n boer se woordeskat nie, hoewel ons al baie op “moedverloor se vlakte was”. ‘n Boer is ‘n snaakse ding, miskien binnekort ‘n rare spesie (definitief ‘n bedreigde een!), hy probeer gedurig “aan die hemel vat” en dit is wat ons landbou aan die gang hou. Almal moet eet! Dit is tyd dat mense buite die landbou dit besef. Hou op met klippe gooi en met swak en onwaar beriggewing die landbou skaad. Onthou, landbou is die fondasie van elke gesonde ekonomie regoor die wêreld.

Landbougroete
Jacques du Plessis