Showing posts with label skool. Show all posts
Showing posts with label skool. Show all posts

Friday, February 29, 2008

Uit die mond van ons Gr 4 leerders...

- Verlé le Grange -

Die Gr.4’s van Zwartberg leer tans van die Geskiedenis en ontstaan van Prins Albert. Ons het die Fransie Pienaar Museum besoek en ‘n bietjie meer van ons dorpie geleer.

Die kinders het die volgende te sê van hul dorp, Prins Albert (Die skryfwerk is onveranderd gelos):

Janine McDonald

Ek hou van Prins Albert, want hy is klein en mooi, ek hou ook van al die Museums en Hotelle wat ons dorpie ondersteun. Ons het ‘n berg waar teen ons kan vas kyk. Ons kan in ‘n sloot loop. As mense van ander plekke af kom, kan hulle sien wie se dorp die is.

Claudia Hannies

Ek hou van Prins Albert omdat dit ‘n baie mooi dorpie is. Daar is ‘n baie mooi kerk en museum en baie huise. In Prins Albert is daar baie mense wat ons ken. Hier in Prins Albert is donkies, bokke en koedoes. In die somer is dit baie warm. Die dorp is baie spesiaal. Die besoekers kom baie na Prins Albert.”

Gerhardt Bezuidenhout

Ek hou van Prins Albert want dit is ‘n baie mooi dorp vir my. Ek hou van dit reën min. En ek hou ook van die berge is baie mooi vir my. Ek hou van Prins Albert dit het baie mooi huise en hotelle. Ek hou van die dorpie en baie mooimense in die dorp. Dit het ook ‘n lekker skool. Ek hou van die besoekers wat van ander lande af kom.

Germari Steyn

Ek hou van Prins Albert, want hy is baie kosbaar en mooi en hy het baie goed waarna jy kan kyk. Hy het ook lekker waterslote waarin jy kan loop. Hy het ook ‘n lekker groot Museum waar jy na al die ou goed kan ky. Hy is ook ‘n vriendelike dorp met baie mense en mooi berge om na te kyk.

Thursday, January 31, 2008

Zwartberg spog met drie nuwe onderwysers.

- Ailsa Tudhope -

Hoërskool Zwartberg se skoolhoof Kobus Snyman en onderhoof Danie Rossouw was jare lank die enigste dorings tussen meer as tien rose. Verlede jaar was Anton Nortier die derde doring, en vanjaar is daar nog drie manne.

Chris Gouws is ‘n bekende gesig in Prince Albert en is nou weer terug in die onderwys ná baie jare. Hy was in Bloemfontein adjunkhoof van ‘n skool vir serebraal gestremde kinders.

Hier by Zwartberg sal hy Engels, Natuurwetenskappe, Sosiale Wetenskap en Ekonomiese Bestuurwetenskap vir kinders in die intermediêre fase leer. Chris se dogter, Chrisna Smit, is die skool se Engelse onderwyseres.

Marcus Izaks is uit die Noord-Kaap in Prince Albert om Afrikaans aan te bied. Hy het veertien jaar onderwyservaring en sy laaste pos was by die Katho Hoërskool. Marcus is ook ’n pastoor van die AGS en gaan betrokke wees by die plaaslike gemeente. Ons verwelkom hom en sy vrou Gail in die dorp.

Die derde nuwe gesig is Shaun van der Walt, wat verlede jaar sy prakties hier voltooi het. Shaun is ’n gegradueerde van Noord-Wes Universiteit op Potchefstroom, asook van UNISA waar hy nog Rekeningkunde studeer.

Ons sien uit na ‘n besige en lonende jaar saam met dié vyf dorings tussen die rose in die Zwartberg personeelkamer.

Twee Coetzees met een slag!

- Willicia Reed, gr 7 -

2008 is ‘n jaar van goeie ontwikkeling en vordering vir Prince Albert Primêr.

Die skool het twee nuwe leerkragte vir 2008 bygekry. Die een, me E Coetzee, is ‘n graad 1 leerkrag en me D Coetzee is ons nuwe remediërende leerkrag.

Me Elfreda Coetzee is afkomstig van Velddrif in die Weskus. Sy het vier jaar te Wellington by die CPUT Onderwys-universiteit studeer waar sy ‘n B.Ed graad ontvang het. Sy het al voorheen in Prince Albert by vriende kom kuier. Sy het aansoek gedoen vir die pos. Sy moes vir ‘n onderhoud kom en sy vind Prince Albert amper net soos Velddrif. Die mense vind sy baie vriendelik en haar gr 1 klas is beheerbaar; sy is baie lief vir kinders.

Me Dalene Coetzee is afkomstig van Bloemfontein. Sy het ook in Bloemfontein by die onderwyskollege vir vier jaar studeer. Sy het senior primêr en pre-primêr gedoen. Sy het voorheen in Prince Albert by haar ouers wat hier geboer het kom kuier. Haar pos was by die OBOS geadverteer en sy het daarvoor aansoek gedoen. Me Coetzee doen remediërende onderrig by Prince Albert Primêr en by Hoërskool Zwartberg.

Me E Coetzee en me D Coetzee, Prince Albert heet u welkom.

Friday, December 14, 2007

Bodo laat rande inrol vir skole

- Denise Ohlson -

Bodo Toelstede is al sewe jaar lank hart en siel betrokke by Wildekanisland Kleuterskool en Hoërskool Zwartberg, en die afgelope drie jaar by Babbelbergies, die junior kleuterskool.

Toe hy in 2000 genader is om as beskermheer van Wildekanisland op te tree, het hy die amp met trots aanvaar – sonder om te besef hoeveel werk nog daarmee gepaard sou gaan, want gou was dit vir hom duidelik dat daar baie ouers is wat nie die Kleuterskool kan bekostig nie. Hy besluit om vriende in Italië en Duitsland te nader om elk ‘n kind te borg. Die positiewe reaksie is oorweldigend en sedertdien stel Bodo kwartaalliks vir elke skenker ‘n verslag op van sy of haar kind en stuur ‘n foto daarmee saam.

Sy persoonlike betrokkenheid by die skool brei verder uit toe hy saam met die kinders begin sing. Met sy musiektoerusting is hy altyd bereid om te help met skoolfunksies en hy sê hy werk graag saam met die kleuterskooljuffrouens om te help met die aankoop van boeke, sielkundige ondersteuning en ekstra toetse.

Elke jaar kom hulle bymekaar om die aantal inskrywings te bespreek en te besluit hoeveel Bodo moet bydra om die klasgetal van 25 vol te maak.
Die afgelope sewe jaar was sy totale bydrae R127,717 – wat insluit R25,000 vir Babbelbergies.

Bodo is ook die beskermheer van Hoërskool Zwartberg. Met die Oktoberfeeste wat hy elke jaar aanbied, het hy al R82,768 ingesamel – plus donasies van R165,000 wat direk ingekom het na aanleiding van die Oktoberfeeste. Hy en sy Kieliebeentjies Orkes het al landwyd en ook in Namibië gaan toer – en dit is harde werk! Tussendeur het hy fondse beding met Nestlé, en hy het al twee leerders per jaar geborg gekry.

Die indrukwekkende somtotaal van al sy onvermoeide pogings om geld bymekaar te raap vir die drie skole, staan by te perse gaan op R445,663 – amper ‘n halfmiljoen rand! Dit wys net wat een man kan vermag. Maar dit vra ysere toewyding en ware selfopoffering. Iets wat min mense mee kan volhou. Maar Bodo hou vol en werk al vier jaar met entoesiasme en energie aan die reëlings vir die 2008 Oktoberfees, wanneer hy ‘n volle koperblaasorkes Prince Albert toe bring.

Omkring nou al Saterdag 18 Oktober 2008 op jou kalender. Die Blaskapelle Hemslingen se optrede gaan ’n eenmalige gebeurtenis wees wat nie net heerlike vermaak gaan bied nie, maar ook die skoolfondse ‘n reuse inspuiting gaan gee.

Viva, Bodo!

Friday, August 31, 2007

Prince Albert leerder verteenwoordig Wes-Kaap by Internasionale Jeugkongres

- S C Delport -

Gedurende die naweek van 15 tot 17 Junie 2007 is 5 meisies en 5 seuns van Prince Albert Primêre Skool gekies om aan ‘n jeug Indaba te Beaufort – Wes te gaan deelneem. Die naweek is onder andere deur Molo Songololo, wat hulle beywer vir die regte van kinders, gereël.

Mnr. Granville Griebelaar het die kinders vergesel. Daar was tussen 200 – 250 kinders van oor die Wes-Kaap bymekaar en kon hulle lekker koppe bymekaar sit oor die jeug en meer spesifiek die uitdagings wat die jeug in die gesig staar.

Dié Sondag het Mnr. Griebelaar met trots aangekondig dat een van die jongelinge uit Prince Albert, Stuart Delport, gekies is om saam met nog sewentien ander leerders uit die Wes-Kaap se skole, ‘n jeugkongres in Orkney, in die Noord-Wes Provinsie te gaan bywoon. Saam met leerders uit al die ander provinsies en ook leerders uit Afrika lande was die afgevaardigdes sowat 2000 leerders.

Die tema van die kongres was “Day of the African Child “ en die onderwerp waaroor gedebateer is, was “Child Trafficking.” Stuart se trotse ouers het hom die Vrydag op Kaapstad Internasionaal gaan afsien, waar hy en die ander jongmense deur die organiseer-ders uit die Premier se kantoor ontmoet is.

Nadat die Direkteur – Generaal in die Premier se kantoor hulle afgsien het, het hulle op die vliegtuig geklim, hul bestemming, O. R. Tambo Internasionaal. Die vliegtuigrit na Johannesburg was ook ‘n eerste vir Stuart en wat ‘n belewenis was dit nie.

Vanaf O.R. Tambo is hulle per bus na Klerksdorp en uiteindelik, Orkney. Stuart is vir die Wes-Kaap gekies om saam met sewe leerders van die ander provinsies die mediakonferensie te behartig. Hulle kon na ‘n strawwe werksessie, hul vrae stel aan Ministers en die Premier van die Noord-Wes. Na afloop van die verrigtinge is hulle haastig na die lughawe vir hul vlug terug Kaap toe.

Stuart kan nie uitgepraat raak oor sy ervaring nie, en sê hy het baie geleer. Sy ouers wil baie dankie sê aan Granville Griebelaar, Mnr. Dala van Molo Songololo, Premier Ebrahim Rasool, Mnr. Derrick Schroeder en Me. Faslin Pedro, van die Premier se kantoor, vir die puik reëlings en hul opofferings.

Dankie ook aan Stuart se Ouma en Oupa en huisvriende vir hul onderskeie bydrae tot hierdie ervaring.

Stuart, wie op verskeie gebiede in sy daaglikse handel en wandel uitstyg, het nou weer eens daarvoor gesorg dat sy mede-leerders en onderwysers by Prince Albert Primêr met reg uiters trots is op hom.

Prince Albert Primêr se Skaakspan Skitter

- Neville Claassen -

Prince Albert Primêr se skaak-spelers het weer eens bewys dat hulle ‘n groep is om mee rekening te hou. Op 4 Augustus 2007 het twee spanne (ses spelers per span) aan die SWDUSSA TOPSKOLE Toernooi deel-geneem.

Die Dogterspan het tweede geëindig en silwer medaljes ontvang. Ons het ook ‘n gemengde groepie by die Hoërskool afdeling ingeskryf en alhoewel hulle teen gesoute o/19 spelers van sewe Hoërskole gespeel het, het hulle hul vasgestaan en vierde gekom.

Twee maande gelede het daar 12 spelers deelgeneem aan ‘n Wes-Kaap Toernooi in Paarl en is Nadine Kroon in die 0/17 opgeneem om aan ‘n Nasionale “All Ages” Toernooi in Durban te gaan deelneem.

As u hierdie spelers in aksie wil sien, kan u gerus ‘n draai kom maak op 1 September 2007 by die VGK Saal of die saal van Hoërskool Zwartberg, wanneer die 3de SWDUSSA-proewe hier sal plaasvind.

Saturday, July 28, 2007

Hoërskool Zwartberg se slimkoppe

- Di Steyn -

Jaarliks word Graad 3 leerders deur die Nasionale Onderwys Departement van onderwys getoets t.o.v. hulle wiskunde- en taalvaardigheid. Die toetse word deur die Departement opgestel en deur hulle afgeneem sonder dat onderwysers enige inset daarin het en vooraf weet wat gevra gaan word. Hoërskool Zwartberg se graad 3 leerders het uitstekend presteer.

Every year Grade 3 learners nationwide are tested for their mathematical and language skills. The tests are set by the National Department of Education and teachers have no idea of the questions that will be asked. These are our results. Well done, children and congratulations to our teachers!

Syferkundigheid: - (Slaag%)
Kring 8 - 27.3%
OBOS: Suid Kaap Karoo - 24.7%
Wes Kaap - 30.9%
Hoërskool Zwartberg - 94.4%

Geletterdheid:
Kring 8 - 40.2%
OBOS: Suid Kaap Karoo - 45.1%
Wes Kaap - 47.7%
Hoërskool Zwartberg - 94.4%

Baie geluk aan die graad 3 leerders wat so pragtig presteer het. Baie dankie aan Me J Munro, D Koorts en B Marais vir u harde werk in die grondslagfase. Baie geluk met u pragtige uitslae.

Wednesday, May 30, 2007

Hoërskool Zwartberg se trots!!!

- Diana Koorts -

Ons skool is met reg trots op bogenoemde twee atlete wat besonder goed presteer het die afgelope atletiekseisoen.

Nikela het uitsonderlik presteer die seisoen.Sy is die nr.1 atleet in die SWD–streek – nadat sy die SWD rekord verbeter het met 2cm. Sy het ‘n hoogte van 1.44m gespring. Daarna het sy aan die Wes-Kaap byeenkoms deelgeneem en ‘n hoogte van 1,47m bereik, waarmee sy die Boland–rekord geëwenaar het en tweede by die byeenkoms geëindig het. Met so ‘n pragtige prestasie het sy ‘n goeie plek in die Wes-Kaapspan behaal en verder geoefen vir die SA byeenkoms.Later het sy ook haar merk gemaak in groot atletiekkringe toe sy aan die SA-byeenkoms in Pretoria op die Pilditch stadion gaan deelneem het. Daar het sy ook baie goed gevaar en ons hele skool en gemeenskap is voorwaar met reg trots op haar.

Christine het ook ‘n baie goeie seisoen agter die rug. Sy het baie goed presteer op verskeie byeenkomste waaraan sy deelgeneem het. Sy het ‘n derde plek by die SWD byeenkoms behaal- met ‘n afstand van 4,68m - waarmee sy SWD kleure verwerf het. Daarna het sy aan die Wes Kaap byeenkoms deelgeneem waar sy ook ‘n derde plek behaal het. Baie geluk Christine – ons is sommer baie trots op die “nuwe atleet” wat so goed presteer.

Nogmaals baie geluk aan die twee atlete en alle sukses vir die pad vorentoe. Ons hou saam met julle duimvas

Wednesday, February 28, 2007

Skaakspelers Blink Uit

Twee van ons skool se vyftienjarige skaakspelers het teen die einde van 2006 bewys dat hierdie sportsoort wat min of geen publieke en regerings-ondersteuning kry, steeds blakend gesond bedryf word by Prince Albert Primêr. Die Wes-Kaap o/17 Dogters en Seuns Skaak-spanne, wie aan die Suid Afrikaanse Skole Spele te Kaapstad deelgeneem het, was be-voorreg om spelers soos Nadia Claassen en Joshua Afrika in hul midde te kon hê. Hierdie twee is Provinsiale spelers en het die af-gelope 3 en 6 jaar onderskeidelik, jaarliks aan Nasionale Kampioenskappe deelge-neem, en kon dus met hulle ervaring hul onderskeie spanne tot groot oorwinning by die Spele help.

Nadia en Joshua het tydens die spele wat plaasgevind het vanaf 3 tot 6 Desember 2006, albei agt uit die nege rondtes gewen, wat vir hulself, asook hul spanne, Goue medaljes besorg het. Ons hoop van harte dat hul nuwe skole, Bridgton Senior Sekondêr en Die Kaapse Akademie vir Wiskunde, Wetenskap en Tegnologie, hulle die ge-leentheid sal bied om hul skaak verder te bevorder. Ons wens hulle alle sterkte toe met hul studies!

Duitse Musiekskool besoek PA binnekort


-Bodo Toelstede-

Die Schreiber Musiekskool van Duitsland wat uit 17 lede bestaan, besoek Prince Albert op die 3, 4 en 5 April 2007.

Wildekanisland se kleauters is baie bevooreg om musiekopleiding op bogenoemde datums te ontvang.

Op 4 April 2007 om 19h00 (7 uur) word ‘n Kultuuraand deur die groep in die Hoërskool se saal aangebied.
Kaartjies kos R20. Onthou die datum en teken dit in u dagboek aan.
Duitse musiek is tog so mooi!

Hierdie Kultuuraand is slegs die aanhef vir wat ons te wagte kan wees, want op 5 April 2007 om 19h00 (7 uur) word ‘n Kultuuraand in die V.G.K saal aangebied.

Die groep besoek ook verkeie ander dorpe, nl. Keurboomsrivier, Kleinmond, George en die stad Kaapstad. Ons is baie bevoorreg dat Prince Albert ook in hul reisprogram ingesluit is.

Kom geniet ‘n mooi aand.