- Titus Hendriks -
Prince Albert se Willing Hearts Rugbyklub speel vanjaar in die SWD Presidentsliga nadat die span verlede jaar as die SWD Karoostreek-kampioen gekroon is. Willing Hearts word as een van die top klubs in die SWD beskou, volgens Titus Hendriks, sekretaris van die klub.
Ligawedstryde het vroeg in April begin en sover het die aanvanklike oefeninge baie goed weggeskop. In harde wedstryde teen Plettenbergbaai op 5 April, het Willing Hearts se twee spanne geseevier; die A-span met 12 – 7 en die B-span met 18 – 7. Hendricks, in ‘n onderhoud met die Vriend, het alle toeskouers aangemoedig om in groot getalle die spanne se tuiswedstryde te ondersteun. Willing Hearts speel op 26 April teen Kango United, op 17 Mei teen die All Blacks en op 31 Mei teen Knysna United op hulle tuisveld.
Die klub het twee nuwe spelers - Claude Hendriks en Adrian Lodewyk, wat voorheen vir Bridgton in Oudtshoorn gespeel het. “Hul kennis, vaardighede en ervaring kan baie beteken vir die klub,” sê Titus Hendriks. Hendriks het verder aan die Vriend verduidelik: “Om ons hoë standaard te handhaaf, het ons borge nodig. Uitrustings, balle, waterbottels en verskeie ander toerusting is dringend nodig vir die nuwe seisoen, maar ongelukkig is baie van ons spelers werkloos en kan nie self geldelik help nie.” Hy sê enige skenking sal baie waardeer word.
Hendriks kan gekontak word by:
(023) 5411298 (h) of 023 5411440(w).
Tuesday, April 29, 2008
Willing Hearts Rugbyklub Nuus
Posted by
Prince Albert Friend
at
11:10 PM
0
comments
Labels: rugby, willing hearts
Saturday, September 29, 2007
Willing Hearts SWD Karoostreek – Kampioene 2007
- T Hendriks -
Saterdag 18 Augustus 2007 het Willing Hearts van Prince Albert op sy tuisveld geskiedenis gemaak toe hy Harlequins van Oudtshoorn in die eindstryd van die SWD Karoostreek verslaan het met 21 – 15. Die rustyd telling was 10 – 10 elk.
Die wedstryd het teen `n baie hoë tempo begin maar op die ou einde was dit Willing Hearts se fiksheid en dissipline wat die wa deur die drif getrek het. James Dido (losskakel) van Harlequins het in die eerste helfte geslaag met `n strafdoel en doelskop terwyl hulle linkervleuel gedruk het. Jaco Hendriks (skrumskakel) van Willing Hearts het teruggeslaan met `n drie wat hy verdoel het asook met `n skepdoel. Rustyd was die telling 10 elk.
In die tweede helfte het Hendriks weer geslaag met twee strafdoele terwyl Jonel Eksteen (flank) die wendrie gedruk het. Harlequins se stut het hul span se enigste drie gedruk in die tweede helfte. Uitblinkers vir die wenspan was voorlangs Randall Wagenaar (stut), Lonton Philander (slot), Jonel Eksteen (flank) en Wilfred Masoes (flank). Agterlangs was Jaco Hendriks (skrumskakel), Graham Hendriks (losskakel), Klaas Masoes (senter) en Johannes Masoes (senter) altyd gevaarlik op die aanval en verdediging.
Willing Hearts skuif met die oorwinning op na die SWD Presidentsliga. Twee van sy spelers, Graham Hendriks (losskakel) en Jaco Hendriks (skrumskakel), is in die SWD O/21 oefengroep opgeneem. Hierdie twee spelers het vanjaar `n groot bydrae gemaak tot Willing Hearts se sukses die jaar.
Baie geluk aan die spelers.
Posted by
Prince Albert Friend
at
9:20 PM
0
comments
Labels: rugby, willing hearts
