- Tannie Daddie -
Toe ek nog ‘n jong skoolkind was daar op Weltevrede, was daar maar min afleiding vir groot of klein. Behalwe nou vir ons CJV byeenkomste. Een keer per maand het ons in die aand in ons plaasskooltjie bymekaargekom - in die ou taal so ‘n „halfmyl“ van ons Boplaas se mense af en ook vir Onderplaas se mense omtrent ‘n halfmyl - want die skool was so min of meer in die helfte van die plaas Weltevrede geleë. Almal, van die grootste tot die jongste, het so ‘n byeenkoms getrou bygewoon. Vir niks in die wêreld het ons dit gemis nie.
Dit was in die tyd voordat ons flitse kon bekostig. My Pa was die draer van ons lantern as enigste lig. Hy was die voorsitter en tant Suse Swanepoel was die een wat die notule gehou het. So loop ons almal dan saam in die donker; my pa loop voor, en ons stap dig teen mekaar om darem iets van die lantern se lig te hê.
Dit was in die dae dat die seuns sulke oulike gestreepte belts - vandag glo gordels genoem - begin dra het wat voor met twee goue gespetjies vasmaak. Sy belt het my broer Pieter aan ’n slang laat dink – en dit het hom ’n blink plan besorg. Hy het ‘n lang tou aan sy belt gebind en dit op ‘n skerp draai in die pad neergelê. Ons neef Willem het hom gehelp. Toe ons so saamgebondel in die lig om die draai in die pad kom, sleep my broer die “slang” oor die pad vlak voor die voorste twee mans se voete en skree: “Pasop, slang!”
Oom Awie, wat langs my pa geloop het, het so vinnig omgespring dat hy amper die lantern uit my pa se hande gestamp het en ons klomp, wat agter was, is skoon op ‘n hoop gehalt. Mense waar was julle! Dit was ‘n groot konsternasie. Oom Awie was vir lank baie kwaad vir broer Pieter, maar ons ander het ná die skrik tog te lekker gelag oor alles.
Vandag, na soveel jare, leef nie een van daardie aand se mense meer nie. Nog net ek het oorgebly om die storie te vertel.
Sunday, June 29, 2008
CJV toe op ’n ligte noot
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment