- Dr Isak Steyl -
In sy huldeblyk tydens die begrafnis van sy broer Anthonie het Isak Steyl die volgende gesê: “Ek dink die bekende woorde van die Afrikaanse digter Jan Cilliers is baie gepas by hierdie geleentheid: “Stil broers. Hier gaan ‘n man verby. Daar was maar een soos hy.”
Anthonie Steyl is 97 jaar gelede gebore in die Prince Albert distrik en daar het hy arm – baie arm – grootgeword as een van ‘n baie ruim maar hegte gesin. Hy het die voordele van ‘n liefdevolle ouerhuis en die warmte van meelewende broers en susters geniet.
Op ‘n jong ouderdom het hy sy ouerhuis verlaat om ‘n heenkome op Prince Albert te vind. Al het hy teen ‘n geringe salaris as winkelassistent begin werk, het hy groot ideale gekoester. Hy was baie opgewonde toe ‘n tante op Beaufort-Wes vir hom ‘n werk gekry het teen £1-10-00 (R3) per maand, en hy losies kon kry teen £2 (R4) per maand. Sy pa moes egter vra: “Is jy verspot, hoe kan jy vir minder as jou losiesgeld werk?” Isak vertel dat sy broer se antwoord was: “Ek het geglo as ek net ‘n begin in die lewe kon kry, sou ek regkom.”
Ja, Anthonie Steyl het in homself en in die toekoms geglo en net ‘n geleentheid gesoek om homself te bewys. Hy was suksesvol as winkelassistent en het na ‘n aantal jare sy eie besigheid begin – sonder geld, maar met die vermöe om hard te werk. Hy het eers ‘n slaghuis geopen, daarna ‘n algemene handelaarswinkel, toe ‘n busdiens bedryf en uiteindelik ‘n tabakfabriek oorgeneem en ‘n welgestelde en suksesvolle sakeman geword.
As gevestigde sakeman het hy sy dienste met oorgawe aan die gemeenskap beskikbaar gestel. In die Munisipale Raad het hy etlike jare gedien, in 1955 as onderburgemeester; in die Afdelingsraad het hy sy bydrae gemaak vanaf 1964 tot 1987; in die Skoolraad het hy sy plek volgestaan; hy was voorsitter van die Nasionale Party van Prince Albert vanaf 1950 tot 1967; in die Kerkraad het hy groot belangstelling getoon in die kerktoring-horlosie, waarna hy omgesien het vanaf 1971 tot 1992. Hy het selfs op die ouderdom van 81 jaar nog dikwels met die trappe tot by die horlosie geklim ...
Sy stokperdjie was duiwe vlieg, maar ook dié tydverdryf het hy só ernstig aangepak dat dit in ‘n goed-georganiseerde telery ontwikkel het! ‘n Tyd lank het hy chinchillas op groot skaal aangehou en die velle bemark. Daar was selfs tyd om gereeld te gaan skyfskiet.
Anthonie was ‘n ware steunpilaar vir sy ouers en het later sy vader se besigheidstransaksies ten volle behartig en vir sy hele familie was hy ‘n stewige anker, veral in die dae toe die eens groot gesin al kleiner en kleiner geword het.
Daar was mense wat hom as ongenaakbaar beskou het, maar hy was ook hard en eerlik teenoor homself. Hy het self besluit die tyd is reg om te verhuis na Huis Kweekvallei, al was dit baie moeilik om die vryheid en ruimte van ‘n eie woning prys te gee. Toe sy oë verswak het, het hy self besluit om van sy motor ontslae te raak, al was dit hóé traumaties vir hom.
Anthonie het tot op die einde ‘n skerp en helder brein gehad. Hy kon probleme korrek analiseer en logiese oplossings vind, nie met ingewikkelde formules nie, maar met gewone “common sense”.
In sy laaste jare het hy baie meer getemper geleef en ‘n rustiger lewenshouding ontwikkel. Nou, skielik, is hy weg – sy stem is stil; dit is ‘n einde van ‘n era.
Anthonie Steyl se nalatenskap aan sy familie en die gemeenskap waarin hy geleef het is tydloos.
Sunday, June 29, 2008
Daar was maar één Anthonie Steyl
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment