Leon de Wit stap nou die dag in die museum in met ‘n groen geskenksakkie en sit dit op my lessenaar neer met die woorde: “Gee dit asseblief vir Judy Maguire, sy weet daarvan.”
In die sakkie is die eienaardigste verweerde, uitgedroogde, uitgerafelde houtagtige voorwerp. Dis vaal-bruin met ‘n bietjie witterigheid wat wil-wil deurslaan. Die een kant is skerp en die ander kant is effens gerond.
Ek kyk vraend na Leon en hy verduidelik dat dit ‘n renosterhoring is wat sy pa, Chrisjan de Wit, destydse eienaar van Treintjiesrivier, in ongeveer 1960 naby Sangrafte opgetel het toe hy van die San se klipwerktuie van naderby bekyk het. Hierdie diere het voorheen volop in die Republiek voorgekom en is selfs in die nabyheid van Tafelberg aangetref. Die laaste renoster in die Kaapprovinsie is in 1853 naby Port Elizabeth geskiet.
Die renosterhoring wat voor my lê lyk miskien soos verweerde hout, maar die meeste van ons is bewus daarvan dat dit uit keratien, die materiaal (stof) waarvan menslike naels en hare saamgestel is, bestaan. Die horing van die renoster groei uit die vel, nie uit die skedel nie en is ook nie vas aan die skedel nie. Die renoster se kop maak ‘n kwart van sy liggaamslengte uit. (Die mens se kop is maar een tiende van sy liggaamslengte.) Sy vel is op plekke tot 1,5 cm dik! Die rekordlengte van ‘n witrenoster se voorste horing is 1,5812 meter en dié van die swartrenoster is 1,3589 meter. Die woord renoster beteken eintlik “neushoringdier”.
Sommige kulture glo dat renosterhoring medisinale aspekte het, of as liefdesdoepa gebruik kan word. Dit is een van die hoofredes waarom dié diere die slagoffers van wildstropers word.
Leon vertel verder dat oom Chrisjan destyds ook twee verweerde olifanttande op die plaas opgetel het. Vermoedelik is dit meer as ‘n honderd en sestig jaar gelede deur ‘n jagter daar in die grondwal onder klippe begrawe, nooit opgeëis nie en het nou, jare later, gedurende ‘n donderstorm onder die klippe uitgespoel.
Chrisjan de Wit het destyds die ivoortande aan die Kaapse Museum ge-skenk, maar later uitgevind dat dit spoorloos verdwyn het!
Kom kyk gerus, die Fransie Pienaar Museum het nou ook sy eie voorraad “liefdesdoepa”, danksy Leon de Wit se skenking van ‘n renosterhoring van Treintjiesrivier!
Museumgroete
Debbie Badenhorst
Sunday, November 30, 2008
Museumnuus - Neushoringdier
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment