Wednesday, September 30, 2009

HADASSA en die koei

- Jacolise Botes -

Daar woon ons toe ook die Hadassa op Prince Albert by. Ek sit tussen twee naamgenote – Delene Coetzee DC, en Dalene Botes DB. Jacolise Botes JB (néé Jacolise Conradie JC) sit tussen DC en DB. Soos `n wiskunde formule ingeplaas DC : JB = JC : DB Hierin vind ek weer my identiteit. Jy kan self die som maak; as jy elke lettersoort eweredig deurstreep, bly daar niks oor nie. Ek is NIKS sonder God in my lewe nie. Jacolise Conradie, wat Jacolise Botes geword het, wat met NIKS voor God, die Koning, se troon staan en oor en oor wag vir sy kopknik oor my lewe.

Met die uitgedeelde profetiese sakkie en my wit oor-en-oor gestreepte spiraalskulp daarin, bevestig hy oor en oor dat Hy aan my `n lewe van oorwinning gee. Oorwinning oor siekte, onvermoë, geografiese omstandighede, vrees vir verwerping en twyfel.

Ek mis Innes Benade se grappie oor die koei – weet net dit het geëindig met ‘jy sê nie vir `n vrou sy is `n koei nie’, want hy besef as ons almal koeie is, dan maak dit hom op ouderdom 50, `n os!

Daar was so `n lekker atmosfeer by die Hadassa. Ons was elkeen so uniek, maar met die rooipers mantels om ons skouers- dieselfde. Vrouens uit al die windrigtings bymekaar: Beaufort-Wes, Laingsburg, Merweville, Leeu Gamka, Oudtshoorn, Rietbron, Prince Albert.

Dis met Innes se Josh Groban ‘You raise me up’ wat ek ook voel ek wil my mantel `n vlag maak en tot die Here se eer waai, maar om my is niemand wat waai nie, nog net daar voor so hier en daar iemand. Delene Coetzee vroetel met haar vingers haar mantel se knoop los en fluister “kom ons waai” - en daar waai my vlag. Bevrydend vier ek my oorwinning!

Saterdagoggend vind mense hulleself en vind mense mekaar. Hulle breek oop en vind heling oor grense; dorpsgrense, rasgrense, kerkgrense, ouderdomsgrense. Die Here se Gees werk! En Hy gaan groot dinge doen in elkeen wat daar was, se lewe. So tussen trane en blydskap; woede en vrede, bokspring ons teen middagete se kant nes die kalwers in Mal. 4 v 2 om finaal daarna stil te word voor God se troon en Hom as Koning van ons lewens te bevestig.

Op die 70km terug huistoe pad kry ons `n kalf op die N1 by die Dwyka brug. Dit is òf ons buurman s’n, of dit is Lukas (my man) s’n. Eers toe ons verby is, besef ons die dier is mos in gevaar. Bel vir Buurman, ja dit is sy kalf, maar hy sit in Stellenbosch by `n troue. Lukas sal dus van voor af kom en kom uithelp.

Ons draai terug na koeitjie toe- dis nou ek en dogter Dalene alleen op die gevaarlike N1 met die groot, swaar vragmotors wat jaag. Ons moet hulle stadiger laat ry, maar hazards sien hulle nie raak nie en rooi vlae het ons nie. Al wat ons het is die rooipers mantels.

En daar waai die mantels weer! Ek onthou Innes se grappie en met skok kyk ek mooi en sien dit is nie `n verskalf nie. Ek hoor die wrrr van vragmotor ‘exhaust brakes’ en in my geestesoog sien ek`n matador in Spanje – Dalene en `n bul in die middel van die N1 met `n reuse vragmotor wat aangeraas kom. Sê nou net die bulkalf is al groot genoeg om die rooipers lap te begin uitdaag en met my halwe asem skree ek windop, “Dalene , gee liewers pad, kom net uit die pad uit– dit is `n bul!” Sy hoor my nie.

Genadiglik bied eers `n verbyganger in `n, ja, rooi Golf ons hulp aan en kort daarna daag my Lukas op soos `n gestuurde om te kom red. So dink ek by myself, die Here het ook humorsin en met die wegry sê ek “Suster, as hierdie vlag van jou vandag nog nie gewaai het nie, het hy nou sy werk gedoen!”

No comments: