- Sara-Mari du Plessis -
Na lang wik en weeg besluit Hennie du Plessis in Januarie dat Hoërskool Zwartberg se matrieks van 1966 nou mooi groot is en dat dit tyd is om te sien of die meisies nog so mooi is. Op tuisfront was Jan Bothma, Hester de Wit en Samie Luttig, maar dit het ‘n geruime tyd geneem om die res van die 23 oud-klasmaats op te spoor. Met elke oproep, en daar was baie, het die entoesiasme gegroei vir die moontlikheid van ‘n reünie. Die eerste naweek in September het meeste gepas.
Op 4 September ontmoet 16 van die klas mekaar by die skousaal vir ‘n vingerete. Vir meeste was dit ‘n eerste weersiens na 43 jaar. Dit was asof die lag en gesels sommer net weer hervat is waar dit einde matriek opgehou het. Op die ‘klasfoto’ moes elkeen weer staan soos op die matriek-klasfoto.
Drie van hulle was ‘Damkinders’. Rondom 1960 het Waterwese begin met die bou van die Gamkapoortdam. Al die werknemers het in ‘n padkamp wes van die dorp langs Magrieta Prinsloostraat gebly. Hoërskool Zwartberg se getalle het ‘n hupstoot uit hierdie kamp gekry. Die aand het oud geword en die gades het gemaklik deel geword van die reünie.
Saterdagoggend het hulle mekaar by die Swartberg Hotel ontmoet vir ‘n laat ontbyt. Almal het daar aangekom met klein albums om te spog met kinders en kleinkinders. Die volgende paar uur is die dorp verken, ou bekendes opgesoek en rugby gekyk. Drie-uur het hulle mekaar by die skool ontmoet vir ‘n vlugtige verkenning van die skool. Ongelukkig was die saal gesluit. In die hotel se konferensiekamer ís fotos uit die matriek-albums op ‘n skerm vertoon en hier het elkeen sy/haar storie vertel oor die jare tussenin. Hierdie ervaring is so verwoord: “Ons het besef ons is ‘n groep mense wat mekaar nodig het en mekaar nog steeds kan ondersteun.”
Saterdagaand was hulle weer by die skousaal – hierdie keer vir ‘n braai met heerlike slaaie, tuisgebakte brood en nagereg. En aansit by keurig gedekte tafels. Die kuier het tot laat aangehou. Teen die einde het Hennie se seun, wat help opruim het, gesê: “Ons jong mense ‘party’ op ‘n ander manier, maar julle wen ons.” Sondagoggend het almal saam die erediens in die NG Kerk bygewoon en daarna vir tee en koek na Lah-Di-Dah gegaan.
Uiteindelik was dit tyd vir groet. Die ervaring van die naweek is so saamgevat: “Ons is nederig dankbaar vir die voorreg om mekaar weer te kon herontdek. Almal is gebeitel deur die jare, maar kwaliteit en Christenskap het gehelp dat ons nie gaan lê het nie. Almal kon na die naweek verryk weggaan met die wete: ou vriende bly altyd vriende.”
Wednesday, September 30, 2009
Ou vriende bly altyd vriende
Posted by Prince Albert Friend at 11:12 AM
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment