- Denise Ohlson -
Die suidelike gedeelte van die Groot Karoo waar ons woon, is ‘n pragtige, oop, skoon en gesonde wêreld, maar net so mooi as wat die veld kan wees, oordek met gras en blomme, net so droog en ongenaak-baar kan die gebied raak.
Om Joseph Steyn van die plaas Rietfontein, geleë op die Kruidfonteinpad tussen Prince Albert en Leeu-Gamka aan te haal: “Ons het pas die vierde agtereenvolgende droë somer beleef. Omdat ons geen grasgroei gehad het nie, is die ruvoer reserwes totaal uitgeput.
Om diere dus ruvoer en kragvoer te gee wat aangekoop word, is onekonomies omdat die diere hul eie waarde binne vyf maande opvreet. Hoë voeraankope en klein lammeroeste het baie boere nou finansieël gedreineer.”
Daar was regeringsfondse vir drie maande beskikbaar om boere te help voer koop, met die hoop op reën, maar tevergeefs.
Meiring Hugo, wat sedert 1981 53km buite Prince Albert op Willemskraal boer, sê dat die gemiddelde reënval op sy plaas die afgelope 30 jaar 147mm was. 2006 en 2007, sy swakste landbou-jare ooit, was ondergemiddelde reënjare van net 102.5mm.
Peter Lawson van die plaas Jan Willemsfontein, 9 km buite Leeu-Gamka, was optimisties dat die 18mm reën wat in Junie en Julie op sy plaas geval het, tesame met die koue, ryperige nagte, sal help om weiding vir sy skape hierdie jaar te verseker: “’n Bietjie water help baie om die hele groeiproses aan die gang te kry”, het hy aan die Vriend verduidelik. Terselfdertyd hoop hy dat die distrik meer reën voor die lammerseisoen in Septembermaand sal kry.
Hoewel die Sentrale Karoo die armste distrik in die Wes-Kaap is, bly landbou met 30% die grootste werkverskaffer. Wanneer werkers plase verlaat om ‘n beter heenkome te soek, word hul poste nie gevul nie en hul werklose teenwoordigheid plaas geweldige druk op dorpe.
Inwoners en besoekers - veral in ‘n dorp soos Prince Albert, waar water in die strate in leivore loop en die dorp groen is - besef nie dat die veld in ‘n rampstoestand is en dat boere en hul diere ‘n stryd voer om te oorleef nie. Vanaf Laingsburg in die weste, Merweville, Prince Albertweg, die noordelike gedeelte van Prince Albert, Leeu-Gamka, dele van Beaufort-Wes tot by Rietbron in die ooste, slaan die droogte sy kloue al hoe dieper in. Die meeste boere kan nie meer bekostig om voer aan te koop nie en daar is geen produksie op veeplase nie. Die direkte gevolg is dat die finansiële posisie van veeboere uiters benard is.
Joseph Steyn vertel verder: “Ek sien net nie meer kans om aan te hou voer nie. ‘n Mens wag vir die reën wat volgende maand, volgende seisoen, volgende jaar, sal val - en so hou dit al vier jaar aan. Daarom het ons 1 180 ooie na boere by Mosselbaai, Beaufort-Wes en Victoria-Wes geneem waar die helfte van die opbrengs geneem word as vergoeding vir die weiding.”
“Gelukkig is ons boere ‘n trotse nasie,” sê Samie Luttig van die plaas Drie Riviere. Hy boer saam met sy seun Boeta, die vyfde geslag Luttigs in die distrik. “Ons ken ons God en gaan nie sommer lê wanneer dit swaar gaan nie. Baie boere het uitgespring om ekstra te verdien en boervroue het gaan skoolhou om kos op die tafel te sit.”
Hy sê dit is bitter vir ‘n boer as hy in die veld ry en sy diere kom na die bakkie aan op soek na voer en hy het nie kos nie, want die koöperasie wil nie verder help nie en die bankbestuurder is nie bereid om die limiet verder te verhoog nie. “Gelukkig was daar mede-boere uit die Wes- en Suid-Kaap wat met voer gehelp het. Hiervoor is ons almal baie dankbaar.”
Op Swartbult, die bekende Vyeplaas buite Prince Albert, vertel Jeanette Marais dat lusern, wat ten duurste aangeplant is, deur koedoes opgevreet is. “Dit moet vervang word - teen R2 000 per ton. Verlede seisoen is ongeveer 60% van die vyeoes deur die honger koedoes opgevreet en moes draad en pale gekoop word om die boorde toe te span. Een rol staaldraad van 1 500 m kos R900! Ander verhoogde kostes soos brandstof, lone en belastings wurg die boere verder. ”
In “Die Gang”, ten noorde van Prince Albert, lyk die prentjie heeltemaal anders. Volgens Anthony Mullins van die plaas Kredouw aan die voet van die Kredouwpas, het hulle 40mm reën in Junie gehad en het 58mm reën al in Juliemaand geval.
Die reën en die sneeu wat hierdie winter op die Swartberg geval het, het ook baie gehelp, sê hy. Die Langrivier loop en die plaasdamme in die gebied is vol.
Die Oukloofdam staan op ‘n gesonde 97% vol, maar Deon Gouws van die Prince Albert Waterforum waarsku dat nog reën hierdie seisoen nodig is om te verseker dat die dam in die somermaande voldoende water aan boere in die Prince Albert-omgewing kan voorsien.
Dankie aan Samie Luttig, Joseph Steyn, Meiring Hugo en Jeanette Marais vir hulle bydrae.
Thursday, July 31, 2008
DROOGTE EIS SY TOL...
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment