4 September 1989 – 7 Januarie 2010
- Alf Joubert -
Daar is ‘n klop aan die deur en ‘n verwese figuur staan voor my. Ek weet instinktief daar is fout, want die man voor my ken ek as ‘n immer glimlaggende, vriendelike mens. Hy kom gou uit met sy kwelling en dit roer my tot in my binneste.
Daar was ‘n woordewisseling en die uiteinde was dat ‘n geliefde seun gesterf het.
“As hulle my net betyds laat weet het, was hy nou nog met ons...” Die asse en die miskiens borrel uit. Ek probeer verstaan, maar sien dit is nie die regte verstaan wat hy soek nie. Ek troos sover ek kan en bied “menslike” hulp aan...
Dan, seker die seerste vraag wat wat enige ouer ooit moet antwoord: “Wanneer word jou kind begrawe?” Daar is nog nie finaal besluit nie, maar dit sal seker by die naweek wees, ons moet nog alles by die “gate” regkry.
Die gate? Ja, die graf moet gegrawe word. Moet julle dit dan self doen? Ja. Ek is geskok, in mý wereld werk dit al lankal anders. Laat ons nie sommer die oorskot veras op ‘n onbepaalde tyd nie? En dan, waneer dit ons “pas”, hou ons ‘n “gedenkdiens”. Daar en dan besluit ek dat ek die teraardebestelling gaan bywoon. Glad nie uit nuuskierigheid nie, nee, ek wil weer by die mens van mens-wees uitkom - as dit nog moontlik is?
***
Dit is tien minute voor die erediens begin. Daar voor die skool kom die stoet aan. Daar is voetgangers en voertuie. Vinnig beweeg die roudiensgangers die VGK in en kry hul sitplekke. Ons staan soos een man op toe die oorskot van Jason Claassen ingebring word.
Die kerk is stampvol. Dit is ‘n skroeiend warm somermiddag. Ek besef dat ek by die begrafnis is van iemand wat diep spore in mense se harte getrap het. Die hele rugbyspan is daar.
In die voorste ry sit Abraham Mars en Christina Mars, sy grootmaakouers vir bykans twintig jaar. Vir my voel dit of elke siel in Noordend daar is om hulle te ondersteun, hulle wat vir Jason van sy eerste jaar af versorg en liefgehad het. Sy pa, Johan Claassen van De Doorns, is ook hier om te ondersteun en ondesteuning te soek.
Die diens is klaar en ons beweeg uit, iemand vra of ek “gate” toe gaan. Ja, ek gaan. Ken ek die pad? Ja, ek stap saam. Dié wat motors het, bied nie ‘n geleent-heid aan nie, hulle lees my reg. Miskien, net miskien, kom ek as ‘n nuwe mens terug van die “gate” af.
Dankie Jason, dat ek jou vir ‘n paar uur “geken” het. Hoe gelukkig het jy baie ander gemaak toe jy gelewe het. In die dood het jy vir my ook iets gegee en ek bid dat die wat agterbly ook ‘n duur les geleer het.
No comments:
Post a Comment