Tuesday, January 30, 2007

Tukkies studente besoek Leeu Gamka

-Charlotte Bothma-

Leeu-Gamka het vanaf 23 – 26 Oktober die wonderlike voorreg gehad om ‘n groep van ses nagraadse argitek- en landskapsargitekstudente en twee dosente van die Universiteit van Pretoria hier te ontvang. Hulle het Leeu-Gamka gekies om ‘n projek te doen waarin hul moet leer hoe om 'n dorpie te ontwikkel en meer toerisme- en leef-vriendelik te maak.

Die groep het die historiese NG kerksaal gebruik as hulle basis en kantoor. Hulle was gewapen met kaarte, lugfotos, skootrekenaars en digitale kameras. Deur die dag is hope fotos geneem en aantekeninge gemaak. Hulle het ook met die plaaslike inwoners en dorpsbestuur gesels om meer agtergrond te kry oor die lewe op en ontwikkelingsplanne vir Leeu-Gamka. Laat middag en saans het hul samesprekings gehou oor hoe die landskap van Leeu-Gamka visueel mooier gemaak kan word en hoe toeriste gelok kan word om te stop. Hulle het ook 'n opname van al die geboue in die dorp gemaak wat sal dien as basis vir verdere bewaringsbeplanning en bestuur. 'n Belangrike deel daarvan is dat die historiese geboue op Leeu-Gamka deel kan vorm van toekomstige ontwikkelings. Hope wonderlike idees is ter tafel gelê en hul wil graag hê dat die hele gemeenskap uit hulle planne voordeel moet trek. By voltooiing van hul projek, sal ons meer inligting kan gee oor hul planne. Die gemeenskap moet egter onthou dat dit ‘n Universiteitskema is en nie amptelike ontwikkelingsbesluite nie – die werk kan egter deur die gemeenskap gebruik word as hulpbron vorentoe.

Ons wil net graag die borge bedank wat hierdie besoek moontlik gemaak het:
Prince Albert Munisipaliteit, Rietfontein Akkommodasie, Leeu-Gamka Ultra City, Leeurivier Supermark en Leeu-Gamka Kwekery en Padstal. Die mense wat gehelp het met die kosvoorbereiding was: Sanette Burger, Mari Steyn en Frans en Marietjie Botes. Julle hulp word opreg waardeer.

Die studente sê baie dankie vir die Karoo gasvryheid wat hulle hier op Leeu-Gamka beleef het.

No comments: