Showing posts with label Leeu Gamka. Show all posts
Showing posts with label Leeu Gamka. Show all posts

Saturday, May 30, 2009

Leeu-Gamka Biblioteekweek

Die Leeu-Gamka Biblioteek het hierdie jaar sy tweede Biblioteekweek tussen 4 en 8 Mei angebied. Daar was aktiwiteite vir kleuters en skoolgaande kinders en heerlike tee en koekies vir die bejaardes. Op die foto geniet die Sweet Sixteens die kuier in die Biblioteek. Die Sweet Sixteen's is 'n groepie bejaarde dansers wat bekend is vir die Volkspele wat hulle op konserte doen.

Biblioteek wil graag vir Mnr Klaas Romp, Sr Jeanette Rossouw, Me Susan Esterhuizen en Me T. Barnard bedank vir die donasies en skenkings wat hulle aan die Biblioteek gemaak het. Daar sonder sou die Biblioteekweek nie 'n sukses gewees het nie.

Sunday, June 29, 2008

Leeu-Gamka vier Biblioteekweek

Gertruida Deelman en haar personeel het uit hulle pad gegaan om Biblioteekweek vanaf 19 tot 23 Mei vir almal op Leeu-Gamka 'n heerlike ervaring te maak.

Sy het op 20 Mei die Babbel en Krabbel Kleuterskool besoek, waar sy vir die jongspan 'n storie gelees en lekkernye uitgedeel het. Op 21 Mei het sy weer die Bejaardesorgsentrum besoek en heerlike tee en koekies is aan die senior burgers bedien. Op die 22ste Mei het die leerlinge van Leeu-Gamka Primêr die biblioteek klasgewys besoek. Daar is aan hulle 'n lesing gegee oor hoe om 'n biblioteek te gebruik. Gertruida het ook aangebied om stories aan die kinders te lees wanneer hulle die biblioteek besoek.

Daar was ook heelwat aktiwiteite rondom die biblioteekweek. Die kinders het hul self oortref met die maak van boekmerke uit roomysstokkies, spaarbussies van ou blikkies, 'n kat uit 'n appel, 'n krimpvarkie uit 'n aartappel, botterblomme van papier en wurmpies uit eierdosies. Heerlike pryse is gewen. Elke persoon wat die biblioteek besoek het, het 'n sak en 'n stokkielekker gekry.

Die biblioteek spog ook met 'n splinternuwe grasperk, 'n rotstuin en 'n tuinbankie, en is voorwaar 'n wonderlike toevoeging tot Leeu-Gamka.

Friday, December 14, 2007

Leeu Gamka hou Erfeniswerkswinkel

Op Vrydag 2 November 2007 het Leeu-Gamka se Toerismeforum ‘n baie geslaagde werkswinkel gehou waarby alle bestaande organisasies, kerke, politieke partye en besighede bertek is.

Dr Frans Jordaan van DEAT Nasionaal en professor Bakker van die Universiteit van Johannesburg het as fasiliteerdes opgetree. Mnr Leon Voster, hoof van Museumdienste in die Wes-Kaap, het waardevolle insette gelewer. Wat die werkswinkel veral besonders gemaak het, was die teenwoordigheid van dr Judy Maguire en mnr Bokkie Botha van Prince Albert, en hul bereidwilligheid om betrokke te raak by Leeu-Gamka se projekte en aktiwiteite. “Daar is so baie kundiges op Prince Albert en die Toerismeforum sal graag wil sien dat hulle almal betrokke raak, want ons omring ons met kundiges van wie ons meer kan leer”, was die inleidingswoorde van die Forum se voorsitter, Letitia Solomons.

In haar toespraak vertel me Solomons dat Leeu-Gamka, wat tans nog die status van ‘n nedersetting het, se eerste bewoners die Khoi en San was – haar voorouers. Khoisan woorde wat behoue gebly het, is Gamka en Dwyka. Tog was die plekkie se eerste naam Bitterwateruitspanning. Al het die water na kruit geruik en al was dit baie brak, was dit steeds ‘n lafenis vir moeë reisigers en trekdiere. Daarna was dit bekend as Fraserburg-Wes en toe word dit Leeu-Gamka: Waar die Leeu en Gamka (wat ook leeu beteken) ontmoet.
‘n Vooruitstrewende dorpie, waar vier passassierstreine per dag stop, ontwikkel toe om die stasie met sy miernes van bedrywigheid soos vragte op- en afgelaai word. Mense soos Paul Kruger en Cecil John Rhodes maak ook ‘n Karoo draai hier...

In hierdie dae wemel Welgemoed en Bloukoppies van makoekoes en Makoekoebult is vol bont sinkhuisies, die binnemure deftig versier met boekblaaie wat nie ‘n tree terugstaan vir winkelplakpapier nie. Daar is Newton Park, Die Gat, Stasie en die Ou Lokasie (Rosemore vir die die geleerdes). Kleihuise, kliphuise en enkele steenhuise neem die grys verlatenheid van die omgewing aan. Sommige huisies lyk later, verweer deur jare se wind en weer, soos perde wat klein-klein holrug gery is, maar die inwoners bly trots daarin. Seer is dit vir baie van hulle toe hulle hul “gehuggies” moet verlaat om in die nuwe skema te gaan bly. Hulle stort trane, want ‘n hele leeftyd moet agterbly en word platgestoot. Mense van Letjiesbos, Luttig, Kruidfontein, Swarts, Dwyka, Prince Albertweg en Palmiet word almal hierheen gebring.

Uiteindelik word die pragtige stasie, die netjiese kantore en geboue toegemaak - soos ‘n boek toegemaak en weggebêre word. Families word weer ontwortel, of neem pakkette en trek weg. Die leerders word al minder en so bloei die eens lewenskragtige dorpie stadig dood. Werksgeleenthede is daar omtrent nie - en daarmee saam kom armoede, met sosiale en ekonomiese verval wat die hoogte ingeskiet. In die Sentrale Karoo word Leeu- Gamka as die armste dorp, ‘n welsynsdorp, beskou. Rassisme is hier ook nie net ‘n
kleurkwessie nie. Leeu-Gamka se rassisme het ook te make met die wat het, en die wat niks het nie. Watter motor jy ry, en watter “skoroskoro” ek ry. Wie watter werk moet kry, en wie in armoede vasgestrik by die huis moet bly.

“Maar vandag, 2 November 2007”, het Latitia Solomons gesê, “is die begin van ‘n nuwe toekoms vir elkeen wie graag daarin wil belê. Dr Jordaan en professor Bakker, Judy Maguire en Bokkie Botha, wil saam met die Toerismeforum help om van Leeu-Gamka ‘n beter plek te maak. Toerism bring werk, en werk beteken geld, en geld beteken ‘n beter lewe en ‘n beter lewe beteken ‘n gesonde gemeenskap. Ons sit met die N1 as polsende goudmyn - en dit word nie benut nie. Duisende toeriste ry daagliks hier verby en dit pla ons nie. Honderde is werkloos, maar ons is tevrede met sporadiese werksgeleenthede op die pad en op ons plase.”

Sy het haar toehoorders oortuig dat, as almal saaamwerk, Leeu-Gamka weer ‘n ware “Oasis in die Sentrale Karoo” kan word.

Sunday, November 11, 2007

Fonds op Leeu-Gamka Hotel se solder

-Charlotte Bothma -

Die Leeu-Gamka Hotel wat in 1898 gebou is, het 'n baie ryk geskiedenis. Met die uitbreek van die Anglo-Boere oorlog in 1899, het treine vol gewonde soldate deur Leeu-Gamka gery.

Aan die begin van die oorlog is gewonde Britse soldate per ambulanstrein terug Kaapstad toe gestuur en daarna terug na hul vaderland toe.

Die inwoners van Fraserburgweg (vorige naam vir Leeu-Gamka) het hul beste gedoen om die gewonde soldate te help. Die hotel en spoorweg enkelkwartiere is as ‘n hospitaal ingerig. Die erg gewonde soldate is van die ambulanstreine verwyder en na hierdie hospitaal gebring.

In 1936 het P.D.F. van der Westhuizen die hotel sowel as die Shell-, Caltex- en Pegasus-petrolpompe oorgeneem.

Dit het 'n baie gewilde rusplek vir reis-igers geword. Die Hotel was ook bekend vir sy heerlike danse en mense het sovêr as Prince Albert gekom om te kom dans.

Mnr Kassie Kasselman, huidige bestuurder, het onlangs op die solder van die hotel rondgesnuffel. Hy ontdek toe 'n kartondoos. Groot was sy verbasing toe hy dit oopmaak en 'n volledige menslike skedel daarin vind. Die skedel is in 'n koerant toegedraai wat dateer 7 Julie 1965.

Volgens Mnr Niel van der Westhuizen (vorige eienaar) het hy die skedel opgetel waar die Leeu- en die Gamkariviere bymekaar kom. Dit is vermoedelik 'n San of Khoi skedel wat uit 'n graf gespoel het.

Met die hulp van Mnr Leon Vorster van Wes-Kaapse Museumdienste gaan daar meer navorsing oor die skedel gedoen word. Intussen bly dit 'n groot raaisel!

Amptelike Opening van Leeu-Gamka Biblioteek

- Pieter Hugo -

Leeu-Gamka se splinternuwe open-bare biblioteek is onlangs amptelik ingewy deur die Provinsiale Minister van Kultuursake en Sport,minister Whitey Jacobs. Behalwe vir die inspirerende toespraak deur minister Jacobs, is die openingsfunksie in die gemeenskapsaal verder spesiaal gemaak deur verskeie ander items. Daar was sangitems deur die Leeu-Gamka Primêre skoolkoor en die Heavenly Voices & Moonlight Stars, 'n praatjie deur Mev. Elsabé Maans en voordrag deur Natasha Dickens. Die volksdanse item deur die Sweet Sixteens, 'n baie lewendige groepie bejaardes van Leeu-Gamka, het groot byval gevind.

Mnr. A. Maans, wat die verrigtinge gelei het, het almal toe versoek om van die saal na die biblioteek te beweeg. Die skare mense wat na die biblioteek aanstap, was 'n pragtige simboliese uitbeelding van die mense van Leeu-Gamka wat in die jare wat voorlê nog paadjies gaan uittrap na hulle dorp se sentrum van kennis en gesonde ontspanning. By die biblioteek het Minister Jacobs die gedenkplaat onthul en die lint geknip om die biblioteek simbolies te open.

Die mense van Leeu-Gamka se manier om dankie te sê, is om hulle nuwe biblioteek ten volle te benut. Die gemeenskap bestaan uit net 3 000 mense, maar hulle neem alreeds byna 4 000 boeke per maand uit. Die personeel, onder die bekwame en entoesiastiese leiding van Me. Gertruida Deelman, moet omtrent bontstaan om almal te help.

Saturday, July 28, 2007

Murder Outrages Community

The communities of Leeu-Gamka, Merweville and Prince Albert were rocked earlier this month by the violent death of a young Merweville girl, Elizabeth Martiens and the charging of a Leeu-Gamka farmer and his wife with her murder. The event made headlines countrywide and residents of the three towns will no doubt follow closely as the details unfold in the national media. At the time of going to print, the wife’s bail hearing was to be held in Prince Albert on 20 July, while there was no indication whether the farmer intended applying for bail.

The State Prosecutor at the Prince Albert magistrate’s court, Mr Mervyn Saayman, confirmed the factual accounts of the case carried by the media to the Prince Albert Friend. Asked why it had taken three months to make an arrest, Mr Saayman said that the police apparently had no leads and the two accused had helped to trace the girl. Following the arrest of the farmer and his wife, further investigation led the police to the badly decomposed body of the girl in an empty water tank on their farm.

The Prince Albert court confirmed that a charge of indecent assault involving two minors had been laid last year against the farmer. The State Prosecutor at the Oudtshoorn Regional Court, Mr Tommy Verryne, denied rumours that the Leeu-Gamka police had lost the docket and that as a result the case had been struck from the roll of the magistrate’s court at Leeu-Gamka in June 2007. He said that the docket had mistakenly been sent to Oudtshoorn, rather than the police in Beaufort West as was required. Mr Verryne told the Friend that he had given instructions that the charge of indecent assault be added to the murder charge against the farmer.

A crowd of about 200 people, including a group of about thirty chanting learners from Prince Albert Primary School, and residents of our three communities gathered outside the court to get a glimpse of the two suspects when they first appeared in court on 16 July. Emotions ran high and posters directed outrage at the justice system and the vulnerability of children in South Africa.

Anger was aimed at the apparent ineptitude of the Leeu-Gamka police and what were seen by many outside the court as unnecessary, special arrangements to protect the accused from the furious crowd. Several pointed out that the three youths charged with the brutal attacks on two elderly residents of Prince Albert almost a year ago had been given no similar consideration. Others remarked on the professional manner in which Superintendent Masola and his personnel from the local Prince Albert police station handled the situation. Their approach had done much to calm things down.

When matters threatened to get out of hand, Western Cape Minister of Social Development, Ms Kholeka Mqulwana, who had travelled from Cape Town to attend the court proceedings, spoke to the seething crowd and, with obvious feeling, assured them that “Your anger is my anger. I am determined to ensure that justice is done”. She added: “The Prince Albert Station Commander has assured me that no dockets will be ‘lost’ ”. At the same time she appealed to everyone not to judge all farmers by the acts of one and stressed that people be disciplined and respect the law, reminding them several times that everyone is innocent until proven guilty.
Mrs Magdalena Benjamin, Prince Albert’s Deputy Mayoress, who also was present in court on 16 July, stressed that she would hate the case to be reduced to a race issue. “As a woman, my heart goes out to both women involved: both the one who is grieving over the loss of her child and the other, who must have been forced by difficult circumstances to remain silent”. Mrs Benjamin wondered aloud about the future of the accused’s children.

Councillor Letitia Solomons of Leeu-Gamka said that people were furious over the Leeu-Gamka police’s apparent mishandling of the farmer’s alleged abuse of two minors in June 2006. She said that people were adamant that the murder could have been avoided if only the police had done the right thing.

Superintendent Masola told the Friend that Prince Albert police would make child neglect its focus from now on. “We have to fight this evil,” he said, “and we hope that the Justice Department will support us in our struggle.”

Friday, June 29, 2007

Leeu-Gamka hou Dankfeesbasaar

- Ds Willem Burger -

Die N G Kerk Leeu-Gamka met sy 101 lidmate het op Saterdag 9 Junie 2007 hul jaarlikse dankfeesbasaar gehad en besoekers van heinde en verre het dit bygewoon. Daar was 'n groot groep besoekers vanaf Worcester en ook al die omringende dorpe rondom Leeu-Gamka. Baie mense het ook vanaf die N1 gestop en die heerlike Karoovleis kom geniet.

Soos gewoonlik was die tafels oorlaai met koeke, terte, brood en beskuit en al die gewone goed wat jy by 'n basaar kry. Die vleistafel was veral 'n treffer. Vooraf is 144 skaap, 5 beeste, 21 varke, 4 koedoes en 1 gemsbok bewerk. As 'n mens dink aan die droogte wat in die omgewing beleef word, was dit verstommend dat die getalle en ook die gradering van die vleis die beste ooit was. Die waarde van vooraf verkope en vooraf bestellings by die vleistafel het sedert die vorige jaar gestyg vanaf R45000 na R85000.

'n Nuutjie was 'n jagpakket vir 'n gemsbok wat opgeveil is en dat daar van vroegdag af braaivleis en slaaie beskikbaar was wat jy per item kon koop. Die omset vir die basaar was 'n rekordbedrag van net meer as R200 000. Soos gewoonlik het van die gemeente se vriende en oud-lidmate ook ruim bydraes gemaak en selfs gehelp agter die tafels.

Besoekers het die teetuin by die kwekery geniet en daar was ook 'n opelug uitstalling van kunswerke van Engela Alberts. Daar is tot laat die middag saam gekuier. Dit was werklike 'n besondere dag uit die hand van die Here en die gemeente is nie net dankbaar teenoor die Here vir 'n wonderlike dag nie, maar ook vir elkeen wat 'n bydrae gemaak het.

Leeu Gamka Openbare Biblioteek

- Pieter Hugo -

Op 11 Junie 2007 het die groot dag vir Leeu Gamka uiteindelik aangebreek: vir die eerste keer ooit het die klein verbyrydorpie langs die N1 'n openbare biblioteek gekry. Vir die N1 gebruikers wat dink Leeu Gamka is net 'n vulstasie en hamburgerstop tussen niks en nêrens, die eintlike dorpie lê net noord van die hoofpad, agter die bult.

Daar is al 6 of 7 jaar gelede begin dink aan 'n biblioteek vir Leeu Gamka, maar weens verskeie faktore is daar eers teen einde verlede jaar met die bouwerk begin.

Al wag ons nog vir die elektrisiteit-aansluiting, het ons besluit om nie langer te wag nie. Die Gamkaners het al lank genoeg gewag vir hulle biblioteek. Die laaste tyd is ons al verskeie kere by die padwerkstoppe op die N1 deur die padwerkers genader wat vra wanneer hulle biblioteek dan nou eendag oopmaak.

Behalwe vir die onophoudelike stroom kinders (weens die staking by die skole was hulle al van die oggend af daar!) en ma's (en ouma's met kleinkinders), was dit wonderlik om ook heelwat pa's met hulle kinders daar te sien aansluit.

In die 4 ure wat die biblioteek Maandag oop was, het ons meer as 100 lede ingeskryf EN 350 boeke is uitgeleen. Dit is meer as 10% van die voorraad van 3000 boeke in die bibliotekie. Op die eerste dag! Teen Woendag, op die derde dag, was daar al 260 lede en is meer as 700 boeke uitegeneem.

Veels geluk aan Gertruida Deelman en haar aflos, Viola Petoos, met hoe hulle die eerste dae die leesbelustigde Gamkaners gehelp het. Ons sal maar net kan wonder hoeveel kospotte het hierdie week al aangebrand!

Wat ons wel weet, is dat Leeu Gamka nie meer agter die bult is nie, maar wel op die leessnelweg!

Wednesday, March 28, 2007

Leeu-Gamka Nuus

- Charlotte Bothma -

Tukkies voorlegging

Op Dinsdag 13 Maart het ‘n verteenwoordiger van die studente van Tukkies ‘n voorlegging van hulle planne vir Leeu-Gamka in die Gemeenskapsaal kom doen. Dit was beslis die lang wagperiode werd. Die planne en voorstelle lyk pragtig. Die volgende stap is om ‘n werkswinkel te hou, waarin daar bespreek kan word hoe hierdie planne tot uitvoer gebring kan word. Baie dankie aan John Peska, die studente afgevaardigde wat die voorlegging kom doen het en Dr Frans Jordaan en Liza Pretorius van die Departement Omgewingsake en Toerisme. Hulle betrokkenheid by ons klein gemeenskappie is van onskatbare waarde.

Die planne en voorstelle sal by die Kwekery en Padstal uitgestal word.

Leeu-Gamka kom fees toe

Leeu-Gamka gaan hierdie jaar ‘n stalletjie by die Prince Albert Fees hê. Dit sal Leeu-Gamka se eerste bemarkingsgeleentheid wees waarin die gemeenskap van Leeu-Gamka betrek sal word. Kom loer gerus in by ons stalletjie vir die volgende produkte en items: vetplante, olyfbome, handgemaakte klei potte deur Lidi, Filomon se draadkarre, die naaldwerk projek se handgemaakte items en nog vele meer.

Sport News

Marquin Fredericks - Prince Albert se Trots

- Hekkie Piedt –

Prince Albert is die afgelope jaar amper elke dag in die media veral in Die Son wat veral die negatiewe kant van die pragdorp uitbring. Daarteen kan ons spog met talentvolle jongmanne op sportgebied sowel as akademies.
Marquin Fredericks is so ‘n jongman. Hy is huidiglik ‘n Graad 11 leerder by Zwartberg Hoërskool. Hy het onlangs met die skool se jaarlikse atletiekbyeenkoms die rekord gebreek in hoogspring vir seuns o/19 jaar. Hy was ook aangewys as die beste presteerder vir senior seuns en as die senior seun met die beste enkel prestasies. Marquin het ook tydens die OUDUSSA Hoërskole Atletiek getoon dat hy vir niemand terugstaan nie. Hy het uitgeblink in die hoogspring ( 1ste plek ), verspring en die naellope.

Marquin is ook ‘n kranige vlugbalspeler. Hy het die SWD Vlugbalspan vir die afgelope drie jaar al behaal. Hy is ook die kaptein van FC United Sokkerklub in Prince Albert en was by die prysuitdeling van die Klub aangewys as die Mees Waardevolle Speler van die Jaar (Most Valuable Player of the Year) – 2006.

Ons wil vir Marquin alle sterkte toewens met sy studies, die atletiek, vlugbal en sokker vir die jaar 2007.

Leeu-Gamka se o/13 sokkerspan blink uit

- I.A. Sabbart -

Die o/13 seuns sokkerspan van die Leeu-Gamka Primêr Skool is onoorwonne in die Beaufort-Wes streek.

Dit is bewys tydens ‘n interskole toernooi wat op 3 Maart in Beaufort-Wes plaas gevind het, waar sewe laerskole uit die omgewing deelgeneem het. Hierdie toernooi is aangebied deur Siyadiala School Mass Participation Program. Hulle is genooi om aan die Zonal toernooi in Kaapstad op 30 en 31 Maart deel te neem. Ons wens hulle alle voor-spoed toe. Baie dankie aan Mnr. S. Constable en Mnr. I.A. Sabbart, Sport Assistent by die Siyadalia Program, vir hul opofferings en geduld met die span.

“A Child in sport is a child out of court”

Hoërskool Zwartberg - Kleuresport


Saterdag die 27 Januarie het die Goue “Egiptenare” en Die “Red Bulls” in ‘n kleurryke optog om die baan by die skool opgedaag. Weereens het Merweville ook deelgeneem- en hulle het ook feestelik en energiek vertoon in die optog met al die 4x4 motorfietse.
Dit was ‘n dag vol opwinding en die atlete het werklik hul bes gedoen en pragtige prestasies gelewer.

Die gouespan het ook die geesdrifbeker ontvang – sowel as die beker vir die meeste punte.

Saterdag 3 Februarie het ‘n groep van 41 atlete aan die SOK byeenkoms op Kareedouw gaan deelneem. Ons het reeds die Vrydag vertrek-aangesien dit ver is en ons atlete lekker kon uitrus voor hul deelname.

Ons skool het baie goed presteer en pragtige prestasies behaal. Die beste 0/9 dogter en seun van die dag was atlete van Hoërskool Zwartberg nl.Rochelle Adolf en Gabriël Breytenbach. Christene Grove was ook die beste 0/19 dogtersatleet- Die skool is met reg baie trots op julle!!!

Die vlg. atlete het almal eerste plekke behaal:
Gabriël Breytenbach - VS
Rochelle Adolf - 80m
Martin Koorts - 80m H en GS
Delia Stalmeester -1500m en 800m
Christine Grove - VS
Andrea Gouws - SG
Yvonne Freysen - DG en GS
Deodett Philander - 60m
Marsunet Breytenbach - 150m

Voorspoed vir elke atleet se deelname die res van die kwartaal—mag dit net baie goed gaan!!!

Tuesday, January 30, 2007

Tukkies studente besoek Leeu Gamka

-Charlotte Bothma-

Leeu-Gamka het vanaf 23 – 26 Oktober die wonderlike voorreg gehad om ‘n groep van ses nagraadse argitek- en landskapsargitekstudente en twee dosente van die Universiteit van Pretoria hier te ontvang. Hulle het Leeu-Gamka gekies om ‘n projek te doen waarin hul moet leer hoe om 'n dorpie te ontwikkel en meer toerisme- en leef-vriendelik te maak.

Die groep het die historiese NG kerksaal gebruik as hulle basis en kantoor. Hulle was gewapen met kaarte, lugfotos, skootrekenaars en digitale kameras. Deur die dag is hope fotos geneem en aantekeninge gemaak. Hulle het ook met die plaaslike inwoners en dorpsbestuur gesels om meer agtergrond te kry oor die lewe op en ontwikkelingsplanne vir Leeu-Gamka. Laat middag en saans het hul samesprekings gehou oor hoe die landskap van Leeu-Gamka visueel mooier gemaak kan word en hoe toeriste gelok kan word om te stop. Hulle het ook 'n opname van al die geboue in die dorp gemaak wat sal dien as basis vir verdere bewaringsbeplanning en bestuur. 'n Belangrike deel daarvan is dat die historiese geboue op Leeu-Gamka deel kan vorm van toekomstige ontwikkelings. Hope wonderlike idees is ter tafel gelê en hul wil graag hê dat die hele gemeenskap uit hulle planne voordeel moet trek. By voltooiing van hul projek, sal ons meer inligting kan gee oor hul planne. Die gemeenskap moet egter onthou dat dit ‘n Universiteitskema is en nie amptelike ontwikkelingsbesluite nie – die werk kan egter deur die gemeenskap gebruik word as hulpbron vorentoe.

Ons wil net graag die borge bedank wat hierdie besoek moontlik gemaak het:
Prince Albert Munisipaliteit, Rietfontein Akkommodasie, Leeu-Gamka Ultra City, Leeurivier Supermark en Leeu-Gamka Kwekery en Padstal. Die mense wat gehelp het met die kosvoorbereiding was: Sanette Burger, Mari Steyn en Frans en Marietjie Botes. Julle hulp word opreg waardeer.

Die studente sê baie dankie vir die Karoo gasvryheid wat hulle hier op Leeu-Gamka beleef het.