Friday, June 29, 2007

Leeu-Gamka hou Dankfeesbasaar

- Ds Willem Burger -

Die N G Kerk Leeu-Gamka met sy 101 lidmate het op Saterdag 9 Junie 2007 hul jaarlikse dankfeesbasaar gehad en besoekers van heinde en verre het dit bygewoon. Daar was 'n groot groep besoekers vanaf Worcester en ook al die omringende dorpe rondom Leeu-Gamka. Baie mense het ook vanaf die N1 gestop en die heerlike Karoovleis kom geniet.

Soos gewoonlik was die tafels oorlaai met koeke, terte, brood en beskuit en al die gewone goed wat jy by 'n basaar kry. Die vleistafel was veral 'n treffer. Vooraf is 144 skaap, 5 beeste, 21 varke, 4 koedoes en 1 gemsbok bewerk. As 'n mens dink aan die droogte wat in die omgewing beleef word, was dit verstommend dat die getalle en ook die gradering van die vleis die beste ooit was. Die waarde van vooraf verkope en vooraf bestellings by die vleistafel het sedert die vorige jaar gestyg vanaf R45000 na R85000.

'n Nuutjie was 'n jagpakket vir 'n gemsbok wat opgeveil is en dat daar van vroegdag af braaivleis en slaaie beskikbaar was wat jy per item kon koop. Die omset vir die basaar was 'n rekordbedrag van net meer as R200 000. Soos gewoonlik het van die gemeente se vriende en oud-lidmate ook ruim bydraes gemaak en selfs gehelp agter die tafels.

Besoekers het die teetuin by die kwekery geniet en daar was ook 'n opelug uitstalling van kunswerke van Engela Alberts. Daar is tot laat die middag saam gekuier. Dit was werklike 'n besondere dag uit die hand van die Here en die gemeente is nie net dankbaar teenoor die Here vir 'n wonderlike dag nie, maar ook vir elkeen wat 'n bydrae gemaak het.

No comments: