Friday, June 29, 2007

St John’s Jeugkamp te Klaarstroom

- Hekkie Piedt, Kerkraadlid en Jeugleier -

St John’s se jeug het ’n vrolike naweek in Klaarstroom vanaf 31 Mei tot 2 Junie geniet. Hulle het baie geleer terwyl hulle Jesus se boodskap van liefde met die Klaarstroom gemeenskap gedeel het.

Die lang wag was uiteindelik verby. Almal het vol verwagting opgedaag vir die naweek. Toe ons uiteindelik in Klaarstroom aankom het die seuns fluks gehelp om alles uit die bus te laai. Gou was die formaliteite afgehandel, huisreëls en verwagtinge. Die jeug is daarna vermaak met ysbrekers wat hulle in die "Lovelife" klas geleer het. Die aand kon die seuns soos gewoonlik nie slaap nie. Die opgewondenheid van die kamp was duidelik te bespeur op hul gesigte. Die oggend so by twee uur het die slaap hul uiteindelik oorval!

Vroeg opgestaan om “gim trim” oefeninge to doen. Na ontbyt het die program gevolg. Juffrou Emmie het ons toege-spreek oor Leierskap. Leiers uit die Bybel is as voorbeelde gebruik. Groepe moes leiers uit die Bybel identifiseer en kyk watter rolle hulle gespeel het. Middagete het gevolg en groepe het leierskap prakties toegepas.

Daarna was hulle in die veld om die boodskap van die konsert en die diens van die volgende dag aan die gemeenskap van Klaarstroom oor te dra. Na aandete het die span hulle gereed gemaak om konsert te hou. Jy kon jou ‘n papie lag vir al die akteurs en aktrise wat opgetree het! Ons het ons eie kunstenaars van Sewende Laan ook op die planke gehad.

Sondag het ons ‘n bietjie later geslaap. Ontbyt geëet en reggemaak vir die diens. Juffrou Emmie het die boodskap gebring oor Simson, ook een van die leiers waaroor die Saterdag gepraat is.

Die diens was geseënd, en gou het ons jeug die waarde van Christenskap beleef. Die samesang, die getuienis, alles wat uitgegaan het, was tot stigting. Middagete het gevolg en daarna het ons opgepak en was dit terug na Prince Albert.

Die jeug is baie dankbaar vir die St John’s Kerkraad wat vir hulle die geleentheid gebied het om hierdie wonderlike ervaring te kon meemaak.

No comments: