Friday, June 29, 2007

Pierrè van Zyl 1984 – 2007

- Denise Ohlson -

Die tragiese heengaan van Pierrè van Zyl op 18 Mei 2007 het die gemeenskap van Prince Albert diep aangeraak. Hierdie liewe en geliefde seun van ons dorp se dood in die ouderdom van 22 jaar en 9 maande het mense in ‘n verenigde front na sy ouers en suster laat uitreik en almal het gedoen en gesê wat hulle moontlik kon, om te troos.

Pierrè, gebore op Prince Albert, het hier gematrikuleer en in Wellington in die onderwys gaan studeer - hoewel almal wat hom geken het, gereken het hy sal hom in ‘n sakerigting bekwaam. Die smousgogga het hierdie intelligente kêreltjie kleindag al behoorlik gebyt en hy het ywerig vanuit sy ouers se motorhuis begin smous… Koop en verkoop het sy belangstelling gebly en later het hy in sy vrye tyd graag eiendom bemark.

Sy hakkelgebrek het Pierrè met sy kenmerkend ysere wil gepak en so suksesvol oorwin, dat hy met selfvertroue voor ‘n klas kon staan en les gee. Almal het net die grootste bewondering gehad vir dié vriendelike, saggeaarde mens wat altyd gewillig was om te help, altyd oorbereid was om ‘n guns te bewys of bloot hard te werk. Hy was ‘n lojale persoon, iemand wat vertroue ingeboesem het – en so sal hy voortleef in die gemoedere van elkeen wat hom geken het.

Sy ouers, Anna en Johan, en sy suster Alicia sê baie dankie vir al die gebede, besoeke, oproepe, blomme, kaartjies, medelye, meegevoel en elke ondersteunende gedagte wat hulle gedra het en steeds bly dra in hierdie bitter sware tyd. Hulle hou net elke dag vas aan die teks van die begrafnisbrief: “Kom na my toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

No comments: