Friday, June 29, 2007

Kevin se Bicycles


- Tilla Erasmus -

Kevin Hough se bicycles in Kerkstraat bring die volgende wysie in my kop as ek straatop loop:
“Ek bring vir jou blomme,
Ek gee jou genot,
Ek leen jou my bicycle sonder ‘n slot…”
die refrain van Koos Kombuis se song “Bicycle sonder ‘n slot”

Kevin se bicycles gee gedurig genot aan almal wat hulle raaksien en geeneen van hulle het ‘n slot nodig nie; dit kos ‘n paar sterk manne om hulle op te tel en weg te dra. Net voor die dorpsfees het hierdie skeppings oornag plek gekry oral in Kerkstraat.

Die grootste een, die “Nguni Dream Catcher” voor Koggelmander het selfs ‘n blompot waarin ons gereeld vars blomme sit. Kyk jy van nader sien jy dat die “Nguni Dream Catcher” talle onderdele het wat die fiets uniek maak. 'n Gemaklike sitplek van ‘n ou ploeg, ‘n ketting wat getrek kan word vir watter rede ook al, ‘n stoomdrukleser vir wanneer jy te vinnig ry en die water aan die kook sou raak, ‘n handdraaistang vir vinnige en swierige es draaie, ‘n eg, ‘n ploeg, ‘n iets van alles-in-een vir watter rede jy ook al hierdie bicycle sou nodig kry.

Om die eindresultaat te kry is nie so maklik nie. Volgens Kevin gebeur dit nie oornag nie. Baie beplanning en dae se rondloop in die veld om al die onderdele en implemente op te tel, by die huis te kry en dan te sweis, het meegehelp om die bicycles aanmekaar en gereed vir uitstal te kry. Dit is al hoe moeiliker om ou skroot te kry wat bruikbaar is. Deesdae verkoop boere al hoe meer skroot aan maatskappye wat dit self van plase af verwyder. In baie van Kevin se bicycles is ou handgemaakte implemente te sien. Hy glo dat hy hierdeur ‘n bydrae tot die bewaring van implemente en werktuie uit ons omgewing maak .

Kevin se straatkuns lei tot menige gesprekke. Daar is altyd iemand wat by ‘n fiets poseer vir fotos wat later aan vêr familie en vriende gewys sal word oor die vindingrykheid van een van ons plaaslike kunstenaars. Die ontwerpe en idees word bepaal deur die stuk metaal wat opgetel word. Sy skeppings is eie-soortig en humoristies. Volgens Kevin is ‘n fiets ‘n universele gebruiksitem en almal ken dit. Meer bicycles gaan op straat verskyn om die familie voltallig te maak. Katie Melua sing van “Nine million bicycles in Beijing”. Ek wou by Kevin weet hoe groot sy bicycle familie gaan word. Hy lag luidkeels, kyk straat af, neem ‘n teug Black Lable en sê: “Hou Kerkstraat dop!”

‘n Versoek aan ons boeregemeenskap: As daar skroot of ou implemente rondlê wat smeek om te verander in een van Kevin se kunswerke, kontak hom gerus.

No comments: