Friday, June 29, 2007

Badisa, die Harleys en die komberse


- Dawid Rossouw -

In Prince Albert is baie arm mense wat afhanklik is van pensioene en staatstoelaes. Werk is in ‘n groot mate seisoenaal en in Junie/Julie is werkloosheid optimaal. Mense in afwagting van ongeskiktheidstoelaes word die swaarste getref, want as hulle werk, verbeur hulle die toelaes waarvoor hulle aansoek gedoen het.

Kinders is honger, want die Departement van Gesondheid bied net tot graad vier voedselprogramme aan en staatstoelaes is slegs beskikbaar vir kinders onder veertien indien hul ouers minder as R1,200 per maand verdien.

Maar gelukkig is daar Badisa.
Ba = Barmhartigheid;
Di = Diens;
Sa = Saam.

Lank nadat besluit is op die naam Badisa, is met groot opgewondenheid ontdek dat die woord in Sotho beteken “iemand wat sy skape oppas of versorg”. Presies nét wat Badisa doen!
Badisa bou saam aan ‘n gelukkige gemeenskap wat omgee vir mekaar en in Prince Albert lewer hulle ‘n geïntegreerde diens om alle gemeenskappe in nood te help bou aan ‘n selfstandige leefwyse. Hulle doen dit vanuit hul Christelike roeping in samewerking met vrywilligers en ander rolspelers.

So het Tossie du Toit, maatskaplike werker by Badisa, drie-uur op ‘n Saterdagmiddag die dames van die Harley Davidson-Klub in Kaapstad voor die hotel in ons hoofstraat ontmoet, om die 70 splinternuwe kleurryke komberse te ontvang, wat die ryers van die spogfietse kom aflewer het, vir die mense wat die winterkoue nou so erg aan die lyf voel.

Vyf kerke en die altyd gewillige Thursday Group is betrokke by die Sopkombuis wat twee keer per week sowat 250 kinders voed. Klere, bymekaargemaak deur kinders van die Blundel Private Skool, is onlangs met groot koste en moeite deur ‘n welwillende plaaslike dame uit Engeland ingevoer.

Woolworths, die NG Kerk en talle individue is entoesiasties betrokke om ‘n klerebank in stand te hou.

By vakansieprogramme, en tydens groepwerk by jeugkampe, word tot 130 jeugdiges op ‘n slag ingelig oor die gevare van VIGS, alkoholmisbruik, dwelms en die gevolge van oka-pyp rook (slagoffers van so jonk as tien jaar vertel hul mae “brand” en hul oë voel “flou”).

By pragtige natuurplekke soos Baviaanskloof word die jeug van ons dorp geïnspireer om hul energie in positiewe rigtings te kanaliseer. Tien van ons kinders gaan eersdaags na Victoriabaai vir onderrig in lewensvaardighede. Vier vrywilligers het reeds in Kaapstad opleiding ontvang om mishandelde en misbruikte kinders tydelik te huisves tot permanente reëlings vir hul welsyn getref is.

Badisa, wat na ‘n bietjie meer as ‘n jaar op Prince Albert eintlik nog in sy kinderskoene is, verrig met ‘n beheerraad van sestien lede en ‘n personeel van vier, werk van ewigheidswaarde. Met die gevestigde en groeiende morele en finansiële steun van ons totale gemeenskap - en met meevallers soos dié van ons Harley Davidson-vriende - kan daar ‘n ingrypende sosiale verskil gemaak word.

Tot voordeel van almal.

Vir meer inligting oor BADISA se werksaamhede, en hoe om betrokke te raak kan Tossie du Toit gekontak word by (023) 5411 388

No comments: