Friday, June 29, 2007

Dalene Theron trou met Bruce Butler


- Miems Theron -

Saterdag, 28 April 2007, is Dalene, dogter van Pieter en Miems Theron van die plaas Swartrivier, in die huwelik bevestig met Bruce, enigste seun van Robin en Charlene Butler van Jeffreysbaai.

Die dag het maar grou aangebreek, maar die son het later besluit om die spreekwoord “elke donker wolk het ‘n silwer randjie”, waar te maak.

Met ‘n hele paar akrobatiese en logistiese spronge tussen die Pluimbalklub, die Olyffees en saalversierder Lenie Otto deur, was alles uiteindelik in plek en die bruid kon haar rok, gemaak deur die ontwerper Johan Wolmarans van Port Elizabeth, aantrek.

In haar eg vleinde roomkleurige tabbert met sy skouerlose geborduurde korset van rou sy, oorgetrek met Franse Chantilly-kant en ‘n viervalleromp met ses sy-chiffon lae, het Dalene soos ‘n regte prinses gelyk en gevoel.
Die foto’s is geneem deur Johannesburger Greg Reynolds en sy vrou Collet het die grimering gedoen. Adriana van Salon Petite in Oudtshoorn was op haar pos om die bruidsgroep se hare te doen.

Die seremonie in die NG-Kerk is behartig deur ds. André de Villiers van Mosselbaai en dr. Noël-Jean Kriel het die orrel laat jubel tydens die feestelike geleentheid waar Therese Smith (met Brent Koza op ghitaar) die paartjie toegesing het. Johanna Luttig en die “blommense” van Prince Albert het die kerk in ‘n blommeparadys omskep vir die Olyffees - ‘n bonus waarop nie vooraf gereken is nie! Natuurlik het ook die skousaal onder Johanna se “blom-mechanic”-hande ‘n metamorfose ondergaan.

Wat ‘n plesier was dit nie om met die professionele spyseniers Arona Weideman en Cecilia Erasmus van Oudtshoorn saam te werk nie. Die geurige sangria, gemarineerde mossels, vis op pynappelstokkies en snoektertjies wat hulle op die stoep voorgesit het, kon niemand enigsins voorberei het op wat in die saal gewag het nie... Die gestolde hoendervoorgereg en die vark-en skaapboude was treffers - om nie te praat van die rooiwynpere in yoghurtroomsous nie.

Warren Wilkinson, Bruce se neef, het op paslike wyse saam met Therese “The Prayer” as gebed voor ete gesing. Nadat die bruidspaar die dansbaan geopen het op maat en woorde van “My babe cares for me”, het die Ginger Burns van Jeffreysbaai die res van die aand die dansmusiek verskaf.

Na ‘n genotvolle troue kon die gaste as bonus ook deel hê aan die heerlike Olyffees... Voorwaar ‘n wonderlike naweek om weg te bêre in die onthoulêer!

No comments: