Friday, June 29, 2007

Leeu Gamka Openbare Biblioteek

- Pieter Hugo -

Op 11 Junie 2007 het die groot dag vir Leeu Gamka uiteindelik aangebreek: vir die eerste keer ooit het die klein verbyrydorpie langs die N1 'n openbare biblioteek gekry. Vir die N1 gebruikers wat dink Leeu Gamka is net 'n vulstasie en hamburgerstop tussen niks en nêrens, die eintlike dorpie lê net noord van die hoofpad, agter die bult.

Daar is al 6 of 7 jaar gelede begin dink aan 'n biblioteek vir Leeu Gamka, maar weens verskeie faktore is daar eers teen einde verlede jaar met die bouwerk begin.

Al wag ons nog vir die elektrisiteit-aansluiting, het ons besluit om nie langer te wag nie. Die Gamkaners het al lank genoeg gewag vir hulle biblioteek. Die laaste tyd is ons al verskeie kere by die padwerkstoppe op die N1 deur die padwerkers genader wat vra wanneer hulle biblioteek dan nou eendag oopmaak.

Behalwe vir die onophoudelike stroom kinders (weens die staking by die skole was hulle al van die oggend af daar!) en ma's (en ouma's met kleinkinders), was dit wonderlik om ook heelwat pa's met hulle kinders daar te sien aansluit.

In die 4 ure wat die biblioteek Maandag oop was, het ons meer as 100 lede ingeskryf EN 350 boeke is uitgeleen. Dit is meer as 10% van die voorraad van 3000 boeke in die bibliotekie. Op die eerste dag! Teen Woendag, op die derde dag, was daar al 260 lede en is meer as 700 boeke uitegeneem.

Veels geluk aan Gertruida Deelman en haar aflos, Viola Petoos, met hoe hulle die eerste dae die leesbelustigde Gamkaners gehelp het. Ons sal maar net kan wonder hoeveel kospotte het hierdie week al aangebrand!

Wat ons wel weet, is dat Leeu Gamka nie meer agter die bult is nie, maar wel op die leessnelweg!

No comments: