Friday, June 29, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

In die yskoue greep van die winter is die sterre op hul mooiste, want ons kyk nou in die sterrykste gebied van ons Melkweg naamlik na die middelpunt van ons galaksie.

Dit is in die omgewing van die Skerpioen en die Boogskutter waar dit wemel van ander hemelsvoorwerpe as net sterre soos oop sterrehopies, bolvormige sterrehopies, nebulae (gaswolke), dubbelsterre en selfs hele galaksies. Kyk gerus met `n verkyker in hierdie omgewing rond om `n paar “aaah-oomblikke” te belewe.

Op die 21ste Junie het ons al die Wintersonstilstandpunt passeer maar die dae word eers op die 7de Julie in die oggende langer (met een minuut per dag) nadat ons verby die verste punt van die Son op die aardwentelbaan gespoed het teen 107,000 km/uur. (Teen hierdie spoed is daar hoop dat die winter ook gou verby sal gaan.)

Vanaf die 16de Junie geskied die sonsondergange reeds later met `n minuut elke dag. Die somer kom definitief !

Nuwe Maan is op die 14de Julie en van Julie af is die volmane aan die einde van die maand nadat ons op die 30ste Junie `n "blue moon" volmaan gehad het.

Venus is op haar helderste (mag.-4.5) op die 12de en sal daarna `n mooi prentjie vorm met Saturn en Regulus en later kom ook nog die Maan by.

Jupiter wat op die 5de Junie in opposisie was met die Son ("VolJupiter") is nog sigbaar die hele nag en baie helder (mag. -2.5) in die sterrebeeld Scorpius naby die rooi reus Antares.

Saturnus is sigbaar in die vroeé aand en beweeg nader na die helder Regulus in Leo wat op sy rug lê maar eerder herkenbaar is aan die omgekeerde vraagteken of sekel.

Voor die sterrebeeld Scorpius is daar twee helder sterre wat die sterrebeeld Libra, die Weegskaal voorstel. In die antieke tyd was dié twee sterre, α en β Librae deel van `n groter Skerpioen en hulle arabiese name Zuben el Chamali en Zuben el Genubi beteken vandag nog die Noordelike en Suidelike Knypers van die Skerpioen respektiewelik maar in Julius Ceasar se tyd is hulle van die Skerpioen afgesny en tot die twaalfde diereriemteken verander.

Dit is die enigste nie-lewende diereriemteken en is ter ere van Julius Ceasar ingestel nadat hy die Romeinse Kalender herform het. Dit word as die weegskaal van geregtigheid voorgestel om Julius Ceasar se gebalanseerde sin vir geregtigheid te simboliseer.

Terloops ons hedendaagse kalender wat op die Romeinse een gebaseer is, is nog net `n kwaart dag uit per jaar sodat ons net elke vier jaar `n skrikkeldag nodig het om die kalender met die sterre te sinkroniseer en nie meer 14 dae elke jaar soos lank gelede nie.

In die suide is die drie kruise nou baie mooi sigbaar bokant die Swartberg wat met sneeu daarop die aanskoulikheid net verhoog. Dit is nou veral opvallend hoe naby die Skerpioen aan die Suiderkruis is. In die suidelike rigting huisves ons sterrehemel ware pêrels wat reeds met `n verkyker opgespoor kan word soos die dubbelster Acrux, helderste ster in die Suiderkruis, Omega Centauri, die mooiste bolvormige sterrehopie in Centaurus, die Eta Carina newel tussen die Suiderkruis en die Valskruis en natuurlik die mooi galaksie, die Groot Magellanse Wolk.

Hou die sterre in u oë!

No comments: