Showing posts with label astronomie. Show all posts
Showing posts with label astronomie. Show all posts

Friday, August 31, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

-Hans Daehne-

In September kan ons volgens die kalender sien dat dit Lente geword het en in die naghemel word dit bevestig deur die prominente verskyning van die sterrebeeld Pegasus bokant ons koppe. Op die aarde verklap die ryk blommeprag en al die bloeisels op ooghoogte dat die dae merkbaar langer geword het.

Pegasus, die Vlieënde Perd, (wat ons daaraan herinner hoe vinnig die tyd vlieg) is die dominante noordelike sterrebeeld in September en Oktober en met die Lente dag-en-nag-ewening op die 23ste September word dit met reg die Lentesterrebeeld genoem wat ook aandui dat die dae nou langer word as die nagte in die Suidelike Halfrond.

Die yslike Vierkant van Pegasus is maklik om uit te ken aan vier helder sterre wat die romp van die perd voorstel met sy nek uitgestrek na links, na wes. Dit is een van die min noordelike sterrebeelde wat in die regop posisie is vir ons hier in die suidelike halfrond.

Dit is nou die vinnige planeet Mercurius se beurt om in die aand sigbaar te wees en nogal taamlik helder maar net vanaf die Gordonkoppie omdat hy so naby aan die Son is. Jupiter is op die oomblik die helderste objek in die aandhemel en het sy terugwaartse beweging beeïndig (hy het na die drie knypersterre van die Skerpioen beweeg [weswaarts]) en is nou op pad na die Boogskutter .

Nuus van buite die Aarde :
Op Mars heers daar al `n hele rukkie lank sulke geweldige stofstorms dat die twee marskarretjies Spirit en Opportunity en drie ruimtetuie wat om mars wentel, buite aksie gestel is en moet gewag word totdat die stof gaan lê het om met be-drywighede te kan voortgaan. Mars is ook om ander redes in die nuus: onlangs is `n nuwe ruimtetuig Phoenix gelanseer om oor tien maande op Mars te land met die doel om diepgaande ondersoeke in te stel na ys en water.

Nuwe Maan is op 11 September terwyl Volmaan op 26 September weer met perigeum saamval wat die moonlikheid vir reën in die Wes-Kaap vergroot met die Maan so naby aan die Aarde.

Van vlieënde tyd gepraat, dit is net vir ons aardlinge dat tyd so vinnig verbyvlieg. In die heelal speel tyd glad nie so `n belangrike rol nie, die univers het baie tyd en gebeurtenisse in die univers neem hulle tyd. Ons meting van tyd word deur die aarde se rotasie en die Son bepaal. Wanneer die Son presies bokant ons is, is dit 12:00 middag Sontyd, maar wanneer byvoorbeeld Orion bokant ons is, is dit 6:00 Sterretyd en met Pegasus bokant ons, is dit 24:00 sterretyd.

As jy met die 24 ure van `n dag op aarde nie uitkom nie sal jy op Jupiter en Saturnus met dae van omtrent net 10 ure werklik in tydnood raak en sou die enigste oplos-sing wees om na Venus te trek waar `n Venusdag langer is as `n Venusjaar.

Die arme bewoners van die Internasionale Ruimtestasie (IRS) se dae is net 90 minute lank (= die omwentelingstyd om die aarde) maar daarvoor kan hulle ook soveel meer sonopkomste en -ondergange oor `n ronde aarde waarneem.

Inligting oor die Internasionale Ruimte-stasie, wanneer dit sigbaar is en in welke rigting en vir hoe lank dit oor die aand-hemel beweeg, is verkrygbaar op die webwerf : www.heavens-above.com

Hou die sterre (en IRS) in u oë!

Friday, June 29, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

In die yskoue greep van die winter is die sterre op hul mooiste, want ons kyk nou in die sterrykste gebied van ons Melkweg naamlik na die middelpunt van ons galaksie.

Dit is in die omgewing van die Skerpioen en die Boogskutter waar dit wemel van ander hemelsvoorwerpe as net sterre soos oop sterrehopies, bolvormige sterrehopies, nebulae (gaswolke), dubbelsterre en selfs hele galaksies. Kyk gerus met `n verkyker in hierdie omgewing rond om `n paar “aaah-oomblikke” te belewe.

Op die 21ste Junie het ons al die Wintersonstilstandpunt passeer maar die dae word eers op die 7de Julie in die oggende langer (met een minuut per dag) nadat ons verby die verste punt van die Son op die aardwentelbaan gespoed het teen 107,000 km/uur. (Teen hierdie spoed is daar hoop dat die winter ook gou verby sal gaan.)

Vanaf die 16de Junie geskied die sonsondergange reeds later met `n minuut elke dag. Die somer kom definitief !

Nuwe Maan is op die 14de Julie en van Julie af is die volmane aan die einde van die maand nadat ons op die 30ste Junie `n "blue moon" volmaan gehad het.

Venus is op haar helderste (mag.-4.5) op die 12de en sal daarna `n mooi prentjie vorm met Saturn en Regulus en later kom ook nog die Maan by.

Jupiter wat op die 5de Junie in opposisie was met die Son ("VolJupiter") is nog sigbaar die hele nag en baie helder (mag. -2.5) in die sterrebeeld Scorpius naby die rooi reus Antares.

Saturnus is sigbaar in die vroeé aand en beweeg nader na die helder Regulus in Leo wat op sy rug lê maar eerder herkenbaar is aan die omgekeerde vraagteken of sekel.

Voor die sterrebeeld Scorpius is daar twee helder sterre wat die sterrebeeld Libra, die Weegskaal voorstel. In die antieke tyd was dié twee sterre, α en β Librae deel van `n groter Skerpioen en hulle arabiese name Zuben el Chamali en Zuben el Genubi beteken vandag nog die Noordelike en Suidelike Knypers van die Skerpioen respektiewelik maar in Julius Ceasar se tyd is hulle van die Skerpioen afgesny en tot die twaalfde diereriemteken verander.

Dit is die enigste nie-lewende diereriemteken en is ter ere van Julius Ceasar ingestel nadat hy die Romeinse Kalender herform het. Dit word as die weegskaal van geregtigheid voorgestel om Julius Ceasar se gebalanseerde sin vir geregtigheid te simboliseer.

Terloops ons hedendaagse kalender wat op die Romeinse een gebaseer is, is nog net `n kwaart dag uit per jaar sodat ons net elke vier jaar `n skrikkeldag nodig het om die kalender met die sterre te sinkroniseer en nie meer 14 dae elke jaar soos lank gelede nie.

In die suide is die drie kruise nou baie mooi sigbaar bokant die Swartberg wat met sneeu daarop die aanskoulikheid net verhoog. Dit is nou veral opvallend hoe naby die Skerpioen aan die Suiderkruis is. In die suidelike rigting huisves ons sterrehemel ware pêrels wat reeds met `n verkyker opgespoor kan word soos die dubbelster Acrux, helderste ster in die Suiderkruis, Omega Centauri, die mooiste bolvormige sterrehopie in Centaurus, die Eta Carina newel tussen die Suiderkruis en die Valskruis en natuurlik die mooi galaksie, die Groot Magellanse Wolk.

Hou die sterre in u oë!

Wednesday, February 28, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

-Hans Daehne-

Die komeet McNaught het bo verwagting nie net die inwoners van Prince Albert verras nie, maar ook die meeste astronome wêreldwyd.

Daar is min data beskikbaar oor hierdie groot komeet, aangesien dit eers in Au-
gustus 2006 ontdek is. Dit blyk dat dit eers oor 1000 jaar mag terug kom om die son of dalk glad nie.

Ons sien dit nog gereeld op Gordonkoppie maar net deur `n verkyker aangesien dit nou vinnig kleiner word. Dit was heerlik om gedurende die afgelope weke so baie nuwe sterrevriende te maak.

Nog `n pragtige aanskoulikheid aan die begin van Februarie was die gelyktydige verskyning van ons twee binne-planete Mercurius en Venus net na sonsondergang en Saturnus naby die Volmaan.

Die volgende gebeurlikheid wat met die blote oog waargeneem kan word, is die totale maansverduistering op die 3de Maart. Ons sal weer op die Gordonkoppie wees !

Die herfs dag-en-nag-ewening gebeur al weer op 21 Maart en daarna word die nagte weer langer as die dae.

Die Hubble Ruimteteleskoop word in 2008 weer gediens - wat dringend noodsaaklik geword het nadat `n belangrike kamera op Hubble buite aksie geraak het.

So `n onderneming in die ruimte is altyd `n opwindende gebeurtenis !

Hou die sterre in u oë !