Wednesday, February 28, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

-Hans Daehne-

Die komeet McNaught het bo verwagting nie net die inwoners van Prince Albert verras nie, maar ook die meeste astronome wêreldwyd.

Daar is min data beskikbaar oor hierdie groot komeet, aangesien dit eers in Au-
gustus 2006 ontdek is. Dit blyk dat dit eers oor 1000 jaar mag terug kom om die son of dalk glad nie.

Ons sien dit nog gereeld op Gordonkoppie maar net deur `n verkyker aangesien dit nou vinnig kleiner word. Dit was heerlik om gedurende die afgelope weke so baie nuwe sterrevriende te maak.

Nog `n pragtige aanskoulikheid aan die begin van Februarie was die gelyktydige verskyning van ons twee binne-planete Mercurius en Venus net na sonsondergang en Saturnus naby die Volmaan.

Die volgende gebeurlikheid wat met die blote oog waargeneem kan word, is die totale maansverduistering op die 3de Maart. Ons sal weer op die Gordonkoppie wees !

Die herfs dag-en-nag-ewening gebeur al weer op 21 Maart en daarna word die nagte weer langer as die dae.

Die Hubble Ruimteteleskoop word in 2008 weer gediens - wat dringend noodsaaklik geword het nadat `n belangrike kamera op Hubble buite aksie geraak het.

So `n onderneming in die ruimte is altyd `n opwindende gebeurtenis !

Hou die sterre in u oë !

No comments: