Wednesday, February 28, 2007

Ons Bome natuurlik of gekerf?



-Denise Ohlson-

Die vyf dooie bloekombome voor Lekkerbek Kafee in die hoofstraat van Prince Albert is tans druk onder bespreking: Kunstenaar Richard Forbes se voorlegging om die bome te omskep in kunswerke, ontlok wye kommentaar.

Forbes se projek, gefinansier deur Absa, behels die omskepping van die afgestorwe ou reuse tot speelse beeldhouwerke wat mense gaan uitnooi om hulle te streel en aan te raak, eerder as om hulle van ‘n afstand af te beskou. Prince Albert se dooie bome is die eerste been van ‘n landwye kunsprojek wat oor drie jaar sal sterk.

Drie plaaslike kerwers en een helper sal intensiewe leiding en opleiding kry en kan Forbes dan moontlik later help met opvolgende projekte. Tydens die projek sal ‘n professionele videospan ‘n opname maak wat by die KKNK op Oudtshoorn vertoon sal word. Volgens Forbes sal dit groot belangstelling genereer en mense sal van oraloor kom om na ons vrolike bome met hul oulike skoentjies te kom kyk.

Sou die Munisipaliteit toestemming verleen vir hierdie projek, begin Forbes so gou moontlik kerf - sodat die projek betyds klaar is vir die KKNK wat die eerste week van April afskop.

Hierdie kort kennisgewing het talle Prince Alberters op loop. Vrae word gevra: Wie het die bome vir die kunstenaar “aangebied”? Gaan hierdie beelde inpas by die karakter van ons dorp? Is Richard Forbes die “regte” kunstenaar om die beeldhouwerk te doen? Gaan die projek werklik werk skep? Moet daar enigsins met die natuur gepeuter word? Wat gebeur as die eindproduk esteties nie slaag nie?

Gudrun Toelstede, wat vier jaar gelede saam met haar man Bodo die dryfkrag was agter die behoud van die bome as natuurlike monumente, reken die bome is deel van die dorp se geskiedenis en dat hulle net so behoue moet bly as waardige “dorpsburgers”. Derek Thomas en Judy Maguire, beide van die Prince Albert Kultuurvereniging, het ewe groot empatie met die bome. Volgens Judy spreek hul kulturele en historiese waarde boekdele en Derek sien hulle as trotse simbole wat meer as ‘n eeu lank onverskrokke en trots oorleef het.

Argitek John Whitton se kompromisvoorstel is dat die stomp van die eens enorme bloekom voor Ortons eerder gebruik word aangesien dit naby die toerismeburo, museum en kunsgallery is. Gudrun bied die twee stompe voor haar huis by Kerkstraat 12 aan as beter opsies.

Brent Phillips-White en Mary-Ann Botha van die Prince Albert Gallery, waar van Forbes se etse te sien is, reken die baba moet nie saam met die badwater uitgegooi word nie. Die projek hou besliste voordele in vir die dorp. Mary-Ann hoop om ‘n openbare vergadering oor die saak te reel met ‘n kundige fasiliteerder as voorsitter.

Openbare kuns, volgens kunstenaar Sally Arnold, is ‘n hoogs emosionele saak en altyd kontroversieel. Sy ondersteun die gedagte van ‘n ope debat waartydens die kunstenaar sy idees kan aanbied en Prince Alberters hul goeie oordeel kan laat geld.

Die Vriend verneem graag lesers se opinies oor hierdie interessante saak. Gaan lees gerus die stories op die koperplaatjies wat die Toelstedes destyds op die bome laat aanbring het. En gaan kyk na Forbes se voorlegging – tesame met briewe van beswaardes en ondersteuners – wat by die Prince Albert Gallery te sien is.

No comments: