Friday, August 31, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

-Hans Daehne-

In September kan ons volgens die kalender sien dat dit Lente geword het en in die naghemel word dit bevestig deur die prominente verskyning van die sterrebeeld Pegasus bokant ons koppe. Op die aarde verklap die ryk blommeprag en al die bloeisels op ooghoogte dat die dae merkbaar langer geword het.

Pegasus, die Vlieënde Perd, (wat ons daaraan herinner hoe vinnig die tyd vlieg) is die dominante noordelike sterrebeeld in September en Oktober en met die Lente dag-en-nag-ewening op die 23ste September word dit met reg die Lentesterrebeeld genoem wat ook aandui dat die dae nou langer word as die nagte in die Suidelike Halfrond.

Die yslike Vierkant van Pegasus is maklik om uit te ken aan vier helder sterre wat die romp van die perd voorstel met sy nek uitgestrek na links, na wes. Dit is een van die min noordelike sterrebeelde wat in die regop posisie is vir ons hier in die suidelike halfrond.

Dit is nou die vinnige planeet Mercurius se beurt om in die aand sigbaar te wees en nogal taamlik helder maar net vanaf die Gordonkoppie omdat hy so naby aan die Son is. Jupiter is op die oomblik die helderste objek in die aandhemel en het sy terugwaartse beweging beeïndig (hy het na die drie knypersterre van die Skerpioen beweeg [weswaarts]) en is nou op pad na die Boogskutter .

Nuus van buite die Aarde :
Op Mars heers daar al `n hele rukkie lank sulke geweldige stofstorms dat die twee marskarretjies Spirit en Opportunity en drie ruimtetuie wat om mars wentel, buite aksie gestel is en moet gewag word totdat die stof gaan lê het om met be-drywighede te kan voortgaan. Mars is ook om ander redes in die nuus: onlangs is `n nuwe ruimtetuig Phoenix gelanseer om oor tien maande op Mars te land met die doel om diepgaande ondersoeke in te stel na ys en water.

Nuwe Maan is op 11 September terwyl Volmaan op 26 September weer met perigeum saamval wat die moonlikheid vir reën in die Wes-Kaap vergroot met die Maan so naby aan die Aarde.

Van vlieënde tyd gepraat, dit is net vir ons aardlinge dat tyd so vinnig verbyvlieg. In die heelal speel tyd glad nie so `n belangrike rol nie, die univers het baie tyd en gebeurtenisse in die univers neem hulle tyd. Ons meting van tyd word deur die aarde se rotasie en die Son bepaal. Wanneer die Son presies bokant ons is, is dit 12:00 middag Sontyd, maar wanneer byvoorbeeld Orion bokant ons is, is dit 6:00 Sterretyd en met Pegasus bokant ons, is dit 24:00 sterretyd.

As jy met die 24 ure van `n dag op aarde nie uitkom nie sal jy op Jupiter en Saturnus met dae van omtrent net 10 ure werklik in tydnood raak en sou die enigste oplos-sing wees om na Venus te trek waar `n Venusdag langer is as `n Venusjaar.

Die arme bewoners van die Internasionale Ruimtestasie (IRS) se dae is net 90 minute lank (= die omwentelingstyd om die aarde) maar daarvoor kan hulle ook soveel meer sonopkomste en -ondergange oor `n ronde aarde waarneem.

Inligting oor die Internasionale Ruimte-stasie, wanneer dit sigbaar is en in welke rigting en vir hoe lank dit oor die aand-hemel beweeg, is verkrygbaar op die webwerf : www.heavens-above.com

Hou die sterre (en IRS) in u oë!

No comments: