Friday, August 31, 2007

DIE VERLEDE SLYP DIE TOEKOMS



- Colin Bower en Denise Ohlson -

Tagtig kultuurmense uit die Klein en Groot Karoo, uit Kaapstad, selfs uit Potchefstroom, het die naweek van 10 en 11 Augustus in Prince Albert saamgetrek om die jaarlikse Erfenissimposium te kom ondersteun wat aangebied is onder die vaandel van die Prince Albert Kultuurstigting.

Sprekers, almal kenners op hul gebied, het die erfenistema kundig deurtrap. Raadslid Letitia Solomons het die simposiumgangers in pragtige, poëtiese Afrikaans ‘n oorsig gegee van ons besonderse dorp en klem gelê op die intrinsieke waardes wat hier verteenwoordig word.

Poem Mooney het lig gewerp op die mite van die Karoo-meermin – gekoppel aan die feit dat die hele Karoo eens oorspoel was deur die see... Sy insigte in die meermin- en ander legendes wat ons kultuur verryk, was verfrissend. ‘n Wetenskaplike opinie oor die meerminagtige tekeninge wat uniek is aan die rotskuns van die Klein Karoo, was die bydrae van Jeremy Hollman. Sonder om afbreuk te doen aan die sjarme van Poem se voorlegging, is bewyse voorgelê dat die enigmatiese tekeninge windswaeltjies verbeeld…

Annalize Mouton, redakteur van die tydskrif Village Life het vertel hoe verrykend dit is om die spoor te vat en die geskiedenis van dorpskarakters op te teken vir publikasie. Haar beroep is nie net interessant nie, sy vind dit ook helend en haar stories spreek van groot waardering vir die mense van die platteland.

Argitek Derek Thomas was volgende aan die beurt met ‘n informele gesprek rondom foto’s van plaaslike geboue wat Prince Albert se kultuurhistoriese erfenisskat uitlig. Hy het in dieselfde asem gewaarsku teen onsensitiewe herstel- en bouwerk wat die waarde van eiendom negatief beïnvloed en die karakter en atmosfeer van ons dorp skend. Christine Thomas, skepper van Die Verlede en Hede en Gamkaskloof-raaisels, twee uitstallings wat ons ontasbare erfenis op 38 skilderdoeke tasbaar maak, het die prosesse van denke, besinning en bespreking verduidelik wat haar reuse-taak voorafgegaan het.

Van die simposiumgangers het die middag Christine se uitstalling by die museum besoek, ander het saam met Baba Lekay deur die destydse “Rooikamp” gestap terwyl sy haar nostalgiese grootwordverhaal vertel het - tot en met die uitsettingsbevele van die apartheidsregering.

Die dag is afgesluit met ‘n vrolike Karoo-ete op die plaas Drie Riviere, waar Ailsa Tudhope streekstories opgedis het vir ‘n waarderende gehoor.
Akademici Mathilda Burden en Crain Soudien hul Saterdag bydraes gemaak saam met die energieke, dinamiese Cheryl Carolus en die welsprekende Brett Pyper, pas aangestelde uitvoerende hoof van die KKNK. Hul oorkoepelende tema was: Is ons eenders/anders; beleef ons ‘n kultuurkrisis; is ons identiteit vanselfsprekend of moet ons dit opeis?

Dr. Taffy Schearing het belangstellendes die middag vergesel na Klaarstroom waar hulle plekke besoek het wat met die Boere-oorlog verband hou, afgerond met ‘n heerlike tee by die gastehuis van die Witts-Hewitsons.

Die simposium is afgesluit met ‘n glansryke gala-ete by die Swartberg Hotel waar Len Raymond, voorsitter van Erfenis SA, die gasspreker was en waar verskeie toekennings aan Prince Alberters gemaak is. Hy het ‘n gedenkplaat ter ere van wyle Helena Marincowitz se onskatbare bydrae tot Prince Albert se kultuurerfenis oorhandig aan haar man Pat - wat aangedaan gesê het dit is ook ‘n blyk van 54 jaar se samesyn.

Drie huiseienaars is terselfdertyd beloon met geraamde sertifikate vir hul argitektoniese bewaring van ons historiese geboue en Christine Thomas is vereer vir haar kleurryke optekening van ons ontasbare geskiedenis.

Danksy dr. Judy Maguire en haar span vrywillige helpers, was die symposium nie net suksesvol nie, maar ook inspirerend en insiggewend: Ons verlede is agter ons, maar as ons daaruit kan leer, sal dit ons help om ons toekoms blink en glad te slyp.

(Foto: Me Cheryl Carolus, politieke aktivis en sakevrou, en prof Crain Soudien, historikus, sosioloog en hoof van die Fakulteit Onderwys by die Universiteit van Kaapstad, het die Erfenissimposiumgangers geïnspireer met hul insigte oor gemeenskap, identiteit en kultuur.)

No comments: