Friday, August 31, 2007

Hoe om Volstruisvere te laat Groei

- Daddi -

My oom Krisjan le Roux was versot op jag. Gewoonlik was dit die verlore bokkies wat hy skelm geskiet het. Toe stuur Oom Piet de Wit (beter bekend as Oom Piet Bril) van Vrischgewaag vir my oom ‘n boodskap om te sê hy kan vir hom ‘n wilde volstruismannetjie kom skiet.

My oom laat hom nie tweemaal nooi nie en skiet toe ‘n pragtige groot mannetjie met baie mooi vere. Hy bring ‘n hele paar van die mooi vere vir my ma. Ek vergaap my behoorlik aan die pragtige, sagte krullerige vere.

My oom sien hoe ek dit bekyk en ook begeer. Hy trek een baie mooi veer uit die bossie en gee dit vir my met die volgende woorde: “Hier is vir jou ook ‘n veer, maar luister nou mooi. Neem ‘n pierinkie water, gooi daar een teelepel vol sout in en lê die veer met sy skag kant in die sout water. Na ‘n paar dae sal jy sien, daar kom worteltjies uit, dan kan jy die veer gaan plant en dit sal groei.”

Ek was in die wolke oor die pragtige veer en voer sy instruksies tot die letter uit. Nadat hy klaar met my ma gesels het, kom hy kyk wat ek doen.

Hy begin lag en hou aan lag en dadelik besef ek, ek het ‘n vreeslike gek van myself gemaak. Ek was so ongeveer 5 jaar oud en so kwaad soos net ‘n kind kan word. Ek skel hom uit, en dit was: “ Jou vark, jou vark.” Ek wou huil van skaamte, maar hoe meer ek skel, hoe meer lag my oom.

Ek was baie lank nog kwaad, want elke keer as hy my sien, vra hy of die veer al worteltjies het.

No comments: