Friday, August 31, 2007

Uiters suksesvolle 30x40 Uitstalling



-Denise Ohlson-

Augustus, wat tradisioneel maar ‘n stil maand is vir die Prince Albert Galery, het groot opwinding en ‘n imponerende omset opgelewer tydens die vierde 30x40 Uitstalling wat besonder goed ondersteun is deur kunstenaars sowel as kopers.

Van die 66 doeke, almal in dieselfde 30x40 cm formaat, is 60 verkoop tydens die “stille veiling” - wat mettertyd taamlik rumoerig geraak het! Alf Gundersen se Sunlit Barn het die hoogste bod gehaal toe afslaer Clive van Hasselt R11,000 daarop toegeslaan het. Die tweede hoogste bod van R9,500 is behaal deur Philip W. Badenhorst se Girl at an Exhibition.
Johanna Luttig se spyseniering, Bergwater se wyne en Dick Painter in sy Victoriaanse hofdrag het bygedra tot die feestelikheid.

Galery-eienaars Brent Phillips-White en Mary-Anne Botha het groot waardering uitgespreek vir almal se ondersteuning en het onderneem om vyf persent van hul kommissie te skenk aan die Kuns-departement van Hoërskool Zwartberg.

Hulle begin al klaar idees uitruil oor hoe hulle die volgende veiling gaan aanbied. Allerhande vernuwende gedagtes en planne is in plek om hul galery se nou reeds gewilde 30x40 Uitstalling uit te bou tot een van die hoogtepunte op Prince Albert se jaarkalender.

(Image: Jan Bitterbos - Anya Adendorf)

No comments: