Friday, August 31, 2007

Prince Albert leerder verteenwoordig Wes-Kaap by Internasionale Jeugkongres

- S C Delport -

Gedurende die naweek van 15 tot 17 Junie 2007 is 5 meisies en 5 seuns van Prince Albert Primêre Skool gekies om aan ‘n jeug Indaba te Beaufort – Wes te gaan deelneem. Die naweek is onder andere deur Molo Songololo, wat hulle beywer vir die regte van kinders, gereël.

Mnr. Granville Griebelaar het die kinders vergesel. Daar was tussen 200 – 250 kinders van oor die Wes-Kaap bymekaar en kon hulle lekker koppe bymekaar sit oor die jeug en meer spesifiek die uitdagings wat die jeug in die gesig staar.

Dié Sondag het Mnr. Griebelaar met trots aangekondig dat een van die jongelinge uit Prince Albert, Stuart Delport, gekies is om saam met nog sewentien ander leerders uit die Wes-Kaap se skole, ‘n jeugkongres in Orkney, in die Noord-Wes Provinsie te gaan bywoon. Saam met leerders uit al die ander provinsies en ook leerders uit Afrika lande was die afgevaardigdes sowat 2000 leerders.

Die tema van die kongres was “Day of the African Child “ en die onderwerp waaroor gedebateer is, was “Child Trafficking.” Stuart se trotse ouers het hom die Vrydag op Kaapstad Internasionaal gaan afsien, waar hy en die ander jongmense deur die organiseer-ders uit die Premier se kantoor ontmoet is.

Nadat die Direkteur – Generaal in die Premier se kantoor hulle afgsien het, het hulle op die vliegtuig geklim, hul bestemming, O. R. Tambo Internasionaal. Die vliegtuigrit na Johannesburg was ook ‘n eerste vir Stuart en wat ‘n belewenis was dit nie.

Vanaf O.R. Tambo is hulle per bus na Klerksdorp en uiteindelik, Orkney. Stuart is vir die Wes-Kaap gekies om saam met sewe leerders van die ander provinsies die mediakonferensie te behartig. Hulle kon na ‘n strawwe werksessie, hul vrae stel aan Ministers en die Premier van die Noord-Wes. Na afloop van die verrigtinge is hulle haastig na die lughawe vir hul vlug terug Kaap toe.

Stuart kan nie uitgepraat raak oor sy ervaring nie, en sê hy het baie geleer. Sy ouers wil baie dankie sê aan Granville Griebelaar, Mnr. Dala van Molo Songololo, Premier Ebrahim Rasool, Mnr. Derrick Schroeder en Me. Faslin Pedro, van die Premier se kantoor, vir die puik reëlings en hul opofferings.

Dankie ook aan Stuart se Ouma en Oupa en huisvriende vir hul onderskeie bydrae tot hierdie ervaring.

Stuart, wie op verskeie gebiede in sy daaglikse handel en wandel uitstyg, het nou weer eens daarvoor gesorg dat sy mede-leerders en onderwysers by Prince Albert Primêr met reg uiters trots is op hom.

No comments: