Friday, June 29, 2007

Die Roepman

Vanoggend werk ek in die groot vertrek waar die popversameling en die Hornby Meccano modeltrein uitgestal staan. Die modeltrein, in Engeland vervaardig, is in 1935 aan Cecil Haak geskenk. Dit was sekerlik enige seun se hartsbegeerte om sò ‘n geskenk te ontvang. Bekyk jy die modeltrein van naderby, merk jy eers hoeveel miniatuur deeltjies bymekaar gevoeg is om hierdie trein te laat loop, en elke deeltjie is belangrik!

Dit laat my aan die Roepman dink……….

Elkeen van ons wat soggens opstaan om te gaan werk, is belangrik. Jou werk wat jy gaan doen, is belangrik. Dit maak nie saak of jy die dorp gaan skoon hou, en of jy vandag lewens gaan red nie. Jou werk eis van jou spesifieke kundigheid, kennis, kwaliteite en getrouheid.

Ek sit by Laurence Erasmus (ons noem hom Laurie) en gesels. Hy het in 1976 as arbeider vir die Spoorweë op Touwsrivier begin werk. Laurence is later tot Roepman bevorder, ‘n baie belangrike pos. Sy werk het behels dat hy óp tyd, élke dag, ál die spoorwegwerkers, ‘n uur voor hul skof moes wakker maak. Op sy fiets moes Laurence van huis tot huis ry, roep, die register deur die slaapkamervenster aangee, dit laat teken, en daar gaan hy! Hy moes skofte van 12 tot 18 uur werk om te sorg dat die ratte van hierdie Spoorwegstasie geolie bly en almal betyds op hul poste is.

My Skoolhoof op Vredenburg het jare gelede ‘n baie waar ding kwyt geraak: “Kollegas, elkeen van u verrig ‘n belang-rike taak, maar daar is 46 van julle, dus sal ek nie onmiddellik agterkom as die leeus een van julle gevang het nie, maar die dag as die leeus die “tea-girl” vang, ruk hierdie skool tot stilstand!”

Laurence die Roepman, as die leeus jòù gevang het, het die Spoorweë tot stilstand geruk!

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: