Sunday, November 11, 2007

Fonds op Leeu-Gamka Hotel se solder

-Charlotte Bothma -

Die Leeu-Gamka Hotel wat in 1898 gebou is, het 'n baie ryk geskiedenis. Met die uitbreek van die Anglo-Boere oorlog in 1899, het treine vol gewonde soldate deur Leeu-Gamka gery.

Aan die begin van die oorlog is gewonde Britse soldate per ambulanstrein terug Kaapstad toe gestuur en daarna terug na hul vaderland toe.

Die inwoners van Fraserburgweg (vorige naam vir Leeu-Gamka) het hul beste gedoen om die gewonde soldate te help. Die hotel en spoorweg enkelkwartiere is as ‘n hospitaal ingerig. Die erg gewonde soldate is van die ambulanstreine verwyder en na hierdie hospitaal gebring.

In 1936 het P.D.F. van der Westhuizen die hotel sowel as die Shell-, Caltex- en Pegasus-petrolpompe oorgeneem.

Dit het 'n baie gewilde rusplek vir reis-igers geword. Die Hotel was ook bekend vir sy heerlike danse en mense het sovêr as Prince Albert gekom om te kom dans.

Mnr Kassie Kasselman, huidige bestuurder, het onlangs op die solder van die hotel rondgesnuffel. Hy ontdek toe 'n kartondoos. Groot was sy verbasing toe hy dit oopmaak en 'n volledige menslike skedel daarin vind. Die skedel is in 'n koerant toegedraai wat dateer 7 Julie 1965.

Volgens Mnr Niel van der Westhuizen (vorige eienaar) het hy die skedel opgetel waar die Leeu- en die Gamkariviere bymekaar kom. Dit is vermoedelik 'n San of Khoi skedel wat uit 'n graf gespoel het.

Met die hulp van Mnr Leon Vorster van Wes-Kaapse Museumdienste gaan daar meer navorsing oor die skedel gedoen word. Intussen bly dit 'n groot raaisel!

No comments: