Sunday, November 11, 2007

‘n Dekade van Genade

- Jakoba Visagie -

Op Saterdag, 13 Oktober 2007, het nege kerkkore van die VGK van die Ring van Zoar in groot getalle na Prince Albert gestroom. Dit was vir die jaarlikse Korefees wat plaasgevind het by die plaaslike VGK-gemeente.

“’n Dekade van Genade” was die gepaste tema vir die 10-jaarherdenking van die fees. Die VGK Ring van Zoar bestaan uit 10 gemeentes (insluitend Prince Albert) wat strek tot by Joubertina in die ooste en Ladismith in die weste.

By hierdie geleentheid het omtrent 200 koorlede die toeskouers vergas met hul pragtige sang. Al 10 kore (massakoor) het die fees geopen met hul “VGK-lied” en afgesluit met Bongani Nkozi, I believe en die Magaliesberg se aandlied.

Die kore het ook afskeid van mev Jackie Afrika geneem, wat aan die einde van die jaar verhuis. Sy was een van die stigters lede van die Ringskorefees. Die kore beoog om op Saterdag, 17 November 2007, ‘n CD opname te maak.

Die plaaslike VGK-gemeente wil ook graag die volgende borge bedank vir hul ondersteuning: National Garage, Bokkie en Mary Anne Botha, Gay’s Melkery, Karoo Slaghuis, Konings supermark, Swartrivier Olywe en Spar.

No comments: