Sunday, November 11, 2007

Sterreprag oor Prince Albert

- Hans Daehne -

In November is dit die laaste kans om vertroud te raak met die minder bekende lentekonstellasies soos Pegasus, Andromeda, Aries, Perseus , Aquarius en Pisces, almal nou in die noord-weste.

Dit help om bekende sterreformasies as rigtingwysers te gebruik : so wys die diagonaal van onder links na bo regs in die vierkant van Pegasus na die “ V” van die visse (Pisces) en die “agterbene “ van die vlieënde perd dui al die sterrebeeld Andromeda aan waar mens bietjie met die verkyker moet soek om die pragtige spiraalgalaksie M31 ons bure in die ruimte op `n afstand van twee-en half miljoen ligjaar te vind.

Alhoewel die Andromedanewel reeds met die blote oog sigbaar is, sal `n verkyker `n mooier aansig gee en selfs in `n teleskoop moet die vergroting nie te hoog wees nie sodat `n mens die hele oorsig kry oor die galaksie van 150 duisend ligjaar wydte.

Dit is dus `n galaksie wat amper twee keer so groot is soos ons eie Melkweg-galaksie. Alle ander spiraalgalaksies, meestal nog groter, is baie verder weg van ons.

Bokant die kop van Pegasus is die sterrebeeld Aquarius te vinde. Aquarius en Pisces is die 11de en 12de sterrebeeld van die diereriem onderskeidelik.

Met Aries, die ram, begin die diereriem,die sterrebeelde wat op die ekliptika lê , maar dit bestaan uit net twee helder sterre en baie verbeelding.

Die tweede sterrebeeld in die diereriem is Taurus, die bul en dit beteken dat die tyd naby is om weer die Sewe Susters (Pleiades) en die rooi oog van die bul (Aldebaran) bokant ons koppe in die nag te sien. Perseus, alhoewel baie ryk aan mitologie, is net so moeilik om te vind.

Op die ou end bly daar net oor om na die goeie ou vertrouelinge te soek soos die Suiderkruis en dit lê nou op sy sy en is later agter die Swartberg versteek. Daarvoor klim die Magellanse wolke nou al hoër en ons is bevoorreg om dit in Prince Albert nog met die blote oog te kan sien wat vir die Kaapenaars of Goutengers lankal nie meer nie moontlik is nie.

Mercurius – is al weer `n helder oggendverskynsel en met `n magnitude van -0.7 net so helder soos Mars wat al vanaf middernag te sien is.

Mars in die sterrebeeld Gemini word al helderder en sal in Desember om en by Kersfees op sy helderste wees met `n magnitude van -1.5 .

Venus met `n helderheid van -4.4 in vergelyking is die helderste oggendobjek.

Jupiter in teenstelling is net -1.9 helder en gaan al vroeg in die aand onder saam met die Skerpioen.

Die Maan is nuut op die 10de en vol op die 24de November wanneer dit ook in perigee is.

Saturnus is vir vroeg opstaaners te sien in die sterrebeeld Leo.

Die alombekende somersterrebeeld Orion kom weer op in die Ooste later in die nag wanneer die Skerpioen besig is om onder te gaan . Dit is nadat, volgens die mitologie, die jagter Orion deur die slangdraer, Ophiucus, weer genees is van die dodelike steek van die Skerpioen en nou gereed maak om die Skerpioen in die Weste weer in die aarde te vertrap.

`n Skouspel wat net in die lente waargeneem kan word met die omgekeerde volgorde weer in die herfs van elke jaar. Dit gee ook `n verlaring hoekom die medici deesdae nog `n slang om `n staaf as hulle kenteken het.

Hou die sterre in u oë !

No comments: