Sunday, November 11, 2007

Die Ou Teater Herleef

- Susan Perold -

Prince Albert is ‘n inspirerende plek. Die nuutste voorbeeld van die uitsonderlike dinge wat hier gebeur, is die oprigting van ‘n volwaardige teaterkompleks op die perseel waar die skilder Gawie Beukes die eerste bioskoop amper ‘n eeu gelede bedryf het. Watter ander klein Karoodorpie kan met so iets spog?

Laetitia van Dyk is die eienaar van De Beerstraat 12 met sy pragtige Kaap-Hollandse huis en groot erf of dorpsplasie. Hier het sy die ou woonhuis sensitief gerestoureer en ‘n intieme teaterkompleks ingerig. En so word die Jans Rautenbach Schouwburg op Saterdag 29 September 2007 met ‘n feesbanket ingewy. Jans word vereer vir sy visionêre rolprente, sy nalatenskap as ‘n akteursregisseur, sy respek vir die draaiboek, sy dapper teenstand teen die magte wat artistieke vryheid wou kniehalter en sy bydrae tot die vestiging van die rolprent as volwaardige kunsvorm. Maar hy word ook vereer vir sy menswees wat deur sy werk tot almal gespreek het, sy wysheid, sy volharding en die bree visuele kwasstrepe wat sy rolprente gekenmerk het. Dit dien steeds vandag as aansporing vir ‘n nuwe geslag rolprentmakers.

Franklin Sonn onthul ‘n reuse skildery deur Wendy Malan, ‘n gereelde medewerker van Jans se rolprente. Franklin het die teater amptelik geopen met treffende vertellings oor Jans se rolprente wat die onreg en pyn van apartheid blootgelê het, in ‘n tyd toe hy (Jans) gekruisig is daarvoor. “ ‘n Teater is nie net daar vir die lekker nie”, het Sonn gesê.

'n Video oor Jans se bydrae tot die rolprentkuns asook 'n Commendatio van Leon Van Nierop, wat hom in New York bevind, is vertoon. Die tonele, spel en temamusiek is tydloos, universeel en onderbeklemtoon, Prof Hennie van Coller, voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, oorhandig die erepenning aan Jans Rautenbach. Jans het beskeie opgemerk dat hulle nou ‘n ou man uit die berge uit kom haal vir die groot eerbewys.

Volgens prof Jacques van der Elst , hoof uitvoerende beampte van die Akademie, was dit egter andersom: dit was die eerste keer in die geskiedenis dat die Akademie berge toe gekom het om buite Stellenbosch of Pretoria ‘n erepenning na ‘n ontvanger toe te bring!

Die hoogtepunt van die aand op Prince Albert is Jans se emosionele bedanking aan almal wat sy droom moontlik gemaak het. Sy vrou Almeri word eerste, in die middel en laaste bedank.
In die nuutbekroonde drama van Mike van Graan, Bafana Republic" lewer Lindiwe Matshikiza ‘n fenomonale eenvrouvertoning – ‘n opvoering wat reg laat geskied aan die pragtige klein skouburg...

Laetitia het almal bedank wat haar gehelp het om hierdie droom te bewaarheid - almal in Prince Albert is diep dankbaar dat sy hierdie kosbare kulturele sentrum op ons dorp ontwikkel het tot die voordeel van sy inwoners. ‘n Vriendin sug, “het so gewens iemand wou my bel, sodat ek kon sê ‘jammer kan nie nou gesels nie, ons is op pad na die teater... Maar niemand het nie...”. ‘n Volgende keer!

No comments: