Sunday, November 11, 2007

Dr Jan van Heerden (29.12.1926 – 23.9.2007)

-Denise Ohlson –

Dr Jan van Heerden, alom bekend en bemind as die die skrywer Jan van Elfen, is op 23 September 2007 in die ouderdom van 80 jaar in sy huis in Prince Albert oorlede.

Vir duisende Afrikaanse vroue was sy eerste boek, Die Verwagtende Moeder, ‘n broodnodige uitkoms en ‘n onontbeerlike handleiding. Dit was die regte boek op die regte tyd, en met sy wye kennis en simpatieke aanslag het dr Van Elfen groot vertroue ingeboesem. Sy naam as populêre mediese skrywer was gevestig en sy opvolgboeke – Babasorg, Kleutersorg en Kindersorg – is deur die jare ewe getrou geraadpleeg. Vanselfsprekend het sy lesers ook later hul tieners met die grootste gemoedsrus toegerus vir die lewe met sy welkome seksboeke Wat meisies wil weet en Wat seuns wil weet.

Johannes Jacobus van Heerden is gebore op die plaas Geluk in die distrik Middelburg, Kaap. Sy gesin het dit nie breed nie, maar hy slaag matriek in Mosselbaai en betaal vir sy eie mediese studies aan die Universiteit van Kaapstad. Hy behaal sy M.B.ChB en doen wyd locums totdat hy sy eerste praktyk in Harrismith begin. Hier trou hy in 1955 met Elfabie Schwim. Hulle maak saam vier kinders groot: Rouan, Heidi, Carel en Ilse.

Jan was ‘n kort rukkie assistant-redakteur van die SA Mediese Tydskrif – kantoorwerk het hom nie gepas nie! As gewilde algemene praktisyn het hy in ‘n hele aantal praktyke gestaan totdat hy hom vestig as stigter en eerste dokter van die Gesondheidsdienssentrum van die Universitiet van Stellenbosch – met spesiale aandag aan sportbeserings.

Die Van Heerdens gaan tree af op Onrus, maar na twee jaar verwesenlik Jan ‘n lewensdroom toe hulle in 1995 uitwyk na die wye Karoo. Hulle vestig hulle op Prince Albert, waar Elf weer, soos van ouds, ‘n egte kuierhuis inrig met ‘n ruimhartige braaiplek terwyl Jan ‘n veldtuin aanplant om sy nuwe spreekkamer.

Jan was nie net ‘n goeie dokter en skrywer nie… Hy was ook natuurmens, kunstenaar, sportkenner, wynliefhebber en lewensgenieter. As student het hy (vir ekstra inkomste) sport-spotprente vir koerante geteken (onder die skuilnaam Janus). Hierdie talent leef hy weer uit na sy her-aftrede op Prince Albert. Hy maak karaktersketse van dorpenaars vir die Vriend, stig saam met Helena Marincowitz die Prince Albert Skrywersgilde, dra by tot die gilde se boek Prince Albert, Kweekvallei, teken saam met Hendrik Mostert Die hel se rate op… Hy skilder graag en bly op die hoogte van alles wat in die mediese veld gebeur deur wyd te lees en die internet te fynkam.

Prince Albert en sy mense was besonder bevoorreg dat Jan en Elf hier kom aftree het en dat hy bly praktiseer het. Hy het graag gesê: “Siek mense is my stokperdjjie”. Sy insig en kennis in die mediese veld was indrukwekkend en hy het dit uitstekend saamgevat in tallose rubrieke en veral in sy magistrale Dokter in die huis – wat ‘n kroonboek was by Leserskring en vandag nog sy plek volstaan in menige huisbiblioteek. Twee en vyftig jaar lank het Elf hom onbaartsugtig gesteun en ondersteun. Sy het manuskripte getik en help versorg, sy het pasiënte bemoedig, sy het in die spreekkamer gewerk en geadministreer, sy het sy lewe en sy werk met groot deernis gedeel.

Soos Elf en sy kinders hom sal mis, so ook sy vriende en pasiënte. Vir sy kennis, sy energieke kreatiwiteit, vir sy stout humorsin, sy groothartigheid, sy medemenslikheid, sy onverskrokke uitgesprokenheid. Sy groot gees het ons almal se lewens aangeraak. Ons is gelukkig dat ons kon deel in sy arsenaal van lewens- én boekekennis.

No comments: