Sunday, November 11, 2007

Abrahamskraal Skemer-aand Konsert

- Hestie Fourie -

Reeds van vroeg middag, op 6 Oktober, af het ‘n stofstreep vanaf die dorp na Abrahamskraal bevestig dat dit vanaand tyd is om lekker te kuier op die rustige ou plaas.

Konsertgangers het gearriveer met mandjies gelaai met heerlike versnaperings en natuurlik ook iets vir die droe kele na die rit. Gou-gou is alles uitgepak en is daar lekker in groepies gekuier.

Om 18:00 het almal reeds hulle plekke in die ou skoolsaaltjie ingeneem en het Chris Gouws (Chrisna Smit se vader) ons op ‘n interessante wyse teruggeneem na die ontstaan van Afrikaans. Hierdie wonderlike geskiedenis is luisterryk versier deur plaaslike kunstenaars. Die sang van Peter McEwan. Jeanine Myburgh, Hestie Fourie, Denzil Reid, Ailsa Tudhope en Therene Fourie het nuwe fleur aan ou bekende liedere gegee. Chrisna Smit se klarinet-item was pragtig en Jeanetta de Lange het die bekende gedig “Die dans van die reen” van Eugene Marais met soveel gevoel voorgedra dat almal kon sien hoe die reën soos ‘n vaal karos oor die karoo vlaktes hang. Jeanetta het daarna ‘n baie besondere gedig uit haar eie pen voorgedra. Die gedeelte van die program oor C.J. Langenhoven, met al sy pittighede het groot byval by die gehoor gevind.

Na afloop van die formele program het Mari du Toit en ‘n groep jongmense kom wys hoe outydse volkspele gedoen moet word. Die pragtige rokke van die meisies en die deftige jong manne was beslis iets vir die oog. Om die konsert af te sluit het Miems Theron haar trekklavier nader getrek en almal het die geliefde ou volksliedjies uit volle bors saamgesing… Die ou skooltjie se dak het na amper 100 jaar weer gelig net omdat die Afrikaners nog altyd net so plesierig kan wees. Die aand is afgesluit met ‘n tradisionele potjiekos-ete en heerlike tuisgebakte brode en natuurlik ‘n lang kuier om die kampvuur.

Die fondse wat geïn is by hierdie geleent-heid gaan aan Huis Kweekvallei.

No comments: