Sunday, November 11, 2007

Amptelike Opening van Leeu-Gamka Biblioteek

- Pieter Hugo -

Leeu-Gamka se splinternuwe open-bare biblioteek is onlangs amptelik ingewy deur die Provinsiale Minister van Kultuursake en Sport,minister Whitey Jacobs. Behalwe vir die inspirerende toespraak deur minister Jacobs, is die openingsfunksie in die gemeenskapsaal verder spesiaal gemaak deur verskeie ander items. Daar was sangitems deur die Leeu-Gamka Primêre skoolkoor en die Heavenly Voices & Moonlight Stars, 'n praatjie deur Mev. Elsabé Maans en voordrag deur Natasha Dickens. Die volksdanse item deur die Sweet Sixteens, 'n baie lewendige groepie bejaardes van Leeu-Gamka, het groot byval gevind.

Mnr. A. Maans, wat die verrigtinge gelei het, het almal toe versoek om van die saal na die biblioteek te beweeg. Die skare mense wat na die biblioteek aanstap, was 'n pragtige simboliese uitbeelding van die mense van Leeu-Gamka wat in die jare wat voorlê nog paadjies gaan uittrap na hulle dorp se sentrum van kennis en gesonde ontspanning. By die biblioteek het Minister Jacobs die gedenkplaat onthul en die lint geknip om die biblioteek simbolies te open.

Die mense van Leeu-Gamka se manier om dankie te sê, is om hulle nuwe biblioteek ten volle te benut. Die gemeenskap bestaan uit net 3 000 mense, maar hulle neem alreeds byna 4 000 boeke per maand uit. Die personeel, onder die bekwame en entoesiastiese leiding van Me. Gertruida Deelman, moet omtrent bontstaan om almal te help.

No comments: