Sunday, November 11, 2007

Geskiedenis van die Zeekoegat Kerkie

- Lydia Barella -

Op die uitgestrekte Karooland-skap, alleen en eensaam, in 'n buitewyk van die Prince Albert NG Kerk gemeente, staan 'n historiese volksboukundige kerkie op grond wat lank gelede deel was van die plaas Zeekoegat. Die welvarende boer, Frederick Simon Oosthuizen, destyds eienaar van die plaas, het die kerkie op eie koste laat oprig in 1906.

'n Honderd jaar gelede - op 23 Februarie 1907 - is die kerkie ingewy deur ds D Wilcocks van Prince Albert en ds J R Albertyn van Willowmore. Die kerkie is gebou deur die bekende plaaslike bouer, Christian Stadler Combrinck. Hy het ook die pragtige N G Kerksaal op Prince Albert, die Sendingkerk, De Rust se kerk en ook die kerk op Fraserburgstasie (vandag Leeu-Gamka) gebou. Destyds was daar ongeveer 'n honderd lidmate wat op plase in die Zeekoegat-wyk gewoon het en die kerkie was groot genoeg om almal te akkommodeer.

Die inhoud van die Zeekoegat kerkie het ook groot historiese waarde. Met die inwyding van die kerkie is 'n klein huisorreltjie gebruik. Die huidige orrel, wat volgens oorlewering deur Cecil John Rhodes in ongeveer 1880 aan die Prince Albert gemeente geskenk is, is ongeveer 65 jaar gelede na Zeekoegat se kerkie gebring. Die pragtige olielampe in die kerkie het vroeër in die konsistorie van Prince Albert se kerk gehang. Toe gaslampe die olielampe vervang het, is hulle aan Zeekoegat se kerkie geskenk. Die eerste kanselkleed is in 1906 deur Annie Oosthuizen, oom Frikkie se dogter, geborduur en die huidige kanselkleed ('n presiese replika van die oue) deur Helena Marincowitz in 1968. By die geleentheid het Erick Oosthuizen die rooi tapyt geskenk en Mev Haana Storm die kant gordyne. Die silwernagmaalbekers is in 1912 deur ouderling P H Theron geskenk en die nagmaalkelkies in 1966 deur diaken C Pat Marincowitz. Daar is ook 'n pragtige houtdoopbak in die kerkie.

In 1914 is 'n kerkklok langs die kerkie opgerig en in 1929 het oom Frikkie 'n kerksaaltjie laat bou. Die saaltjie is ook deur C S Combrinck gebou - hy was toe reeds 'n ou man. Tussen die kerkie en die saaltjie staan 'n ry peperbome wat deur Flos van Zyl, die vrou van een van die kosters, aangeplant is.

Vele huwelike is al in die kerkie voltrek, baie kindertjies is daar gedoop en talle lidmate is daar voorgestel. Vandag is daar baie min lidmate - ongeveer twintig - in die Zeekoegat-wyk maar ten spyte daarvan word daar gereeld elke drie maande 'n kerkdiens gehou wat ds Briers graag lei. Hierdie lidmate sien ook gewoonlik om na die onderhoud van die kerkie. Vandag is hierdie besonderse kerkie een van Prince Albert se kultuurskatte. Deur die ywer en harde werk van Helena Marincowitz is die kerkie in Maart 1983 as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Hierdie geleentheid is gevier tydens die naweek van 3 - 4 Maart 1984. Die onthulling van die bronsplaat is waargeneem deur Freddie Oosthuizen, 'n agterkleinseun van Frederick Simon Oosthuizen en die kerkdiens deur ds Freddie Marincowitz 'n kleinseun.

'n Besoek aan die kerkie het een van die Prince Albert gemeentelede, Hester Jarrard, so geinspireer dat sy die pragtige gediggie geskryf het:-

ZEEKOEGAT SE KERK

Op die blou klipbanke van 'n plaas,
weg van al die gewoel en geraas,
het 'n man met 'n visie, lank geleë,
sy hart en lewe vir God gegee.
'n Kerkie het hy daar gebou
waar mense aanbid, van toe af tot nou.
Bruide het tot voor die kansel geloop,
hul kinders se kinders word steeds daar gedoop.
As jy rus soek of moeg is en sat,
besoek gerus die kerkie by Zeekoegat.
Die honderdjarige bestaan van die kerkie word op 2 Desember 2007 herdenk. Ds Freddie Marincowitz sal die diens om 10h00 die oggend waarneem. Alle belangstellendes is baie welkom om die verrigtinge by te woon. Kontak Lydia Swanepoel by tel. 023 541 1942 vir nadere inligting.

No comments: