Sunday, November 11, 2007

Down Memory Lane

So ‘n bietjie meer as twee jaar gelede het ek by die Fransie Pienaar Museum begin werk. Die dag toe ek vir diens aanmeld, nooi Tannie Helena my om eers saam met haar deur die museum te stap sodat sy my kennis oor Prins Albert en sy mense kan opknap.

Ons kom in die vertrek waar al die mediese toerusting uitgestal is, en ek sien Oom Hansie Odendaal se kunsgebit het voorwaar ook ‘n ere-plekkie in een van die kaste. Die byskrif lui: “Op 17 Februarie 1978 het Hansie Odendaal sy tande uit die vliegtuig van Dr. Manie Coetzee verloor. Die tande is in 2000 deur Fred Badenhorst op die plaas Paradys, ongeveer 30 km van Prins Albert, opgetel.”

Ek merk op dat daar geen inligting oor Dokter Coetzee is nie. Daar en dan neem ek my voor: Vir Manie Coetzee, Prins Albert se vlieënde dokter, moet daar gewis ‘n plekkie in die museum gemaak word. Na vele oproepe spoor ek die Coetzees op en Alta belowe om vir my inligting te pos.
Was dit nou lekker om al die ou tydskrifte en fotos uit die dik koevert te haal. Ek het kompleet soos ‘n kind met ‘n “lucky packet” gevoel!

Dokter Coetzee en sy gesin arriveer einde Desember 1975 op Prins Albert en trek in die historiese Bona Vista in. Hy was nog skaars op die dorp, of almal besef dat hierdie man nie maar net nóg ‘n dokter is nie. Hy gaan uit sy pad om almal te help wat in nood verkeer.

Gedurende die Laingsburgvloed was Gamkaskloof se mense ook van die buitewêreld afgesny. Manie vlieg in die poort in met meel en ander kos, beskadig sy vliegtuig toe hy land, en moet te voet uit die kloof klim, ‘n moeilike taak vir ‘n man met ‘n kunsbeen!

Manie het graag die storie vertel van die dag toe hy Oom Karel Cordier, deur sy eie donkie aan die been gebyt, uit Gamkas-kloof moes gaan haal. Oom Karel moes dringend hospitaal toe, die been het sleg gelyk, maar hy’t botweg geweier om in die vliegtuig te klim. Na baie mooipraat en dreigemente, selfs met ‘n spuitnaald, kon Dokter hom darem in die vliegtuig kry.

As student het ek by Manie in die spreekkamer gewerk. Dit was ‘n belewenis om hom dop te hou terwyl hy met sy pasiënte besig is en sommer gou ‘n lastige tand ook trek! Twee middae per week het ons die klinieke op Klaarstroom, Leeu-Gamka of Merveville besoek. Naby elke kliniek was ‘n rowwe landingstrook ingerig vir ons dokter. Laatmiddag, as die son al laag lê, het Manie dan my ma gebel en gevra of sy die motor só by die vliegveld sal gaan trek, dat hy in die ligte kan kom land. Die oomblik as ons uit die vliegtuig klim, dan praat my ma al hard hier van die motor af: “Jy gaan nog my kind verongeluk!” Dokter het net altyd so ‘n verleë laggie gegee.

Dit gaan goed met die Coetzees. Hulle boer al van einde 2001 af op die familieplaas, Karoovlei, buite Lutzville. Dokter doen nog “locum” werk op Springbok en gaan so een keer per jaar Ierland toe. Anja, hul dogter, is onlangs getroud.

Vir Prins Albert se mense sal Manie Coetzee altyd “óns vlieënde dokter” bly. Ons praat met respek van hom, want op een of ander wyse het hy elkeen van ons aangeraak met sy onblusbare entoesiasme vir die lewe, die energie wat hy uitstraal, sy deursettingsvermoë en blymoedigheid. Dokter Manie Coetzee verdien voorwaar sy plekkie in die museum - ‘n lewende legende vir Prins Albert en sy mense.

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: