Sunday, June 29, 2008

Leeu-Gamka vier Biblioteekweek

Gertruida Deelman en haar personeel het uit hulle pad gegaan om Biblioteekweek vanaf 19 tot 23 Mei vir almal op Leeu-Gamka 'n heerlike ervaring te maak.

Sy het op 20 Mei die Babbel en Krabbel Kleuterskool besoek, waar sy vir die jongspan 'n storie gelees en lekkernye uitgedeel het. Op 21 Mei het sy weer die Bejaardesorgsentrum besoek en heerlike tee en koekies is aan die senior burgers bedien. Op die 22ste Mei het die leerlinge van Leeu-Gamka Primêr die biblioteek klasgewys besoek. Daar is aan hulle 'n lesing gegee oor hoe om 'n biblioteek te gebruik. Gertruida het ook aangebied om stories aan die kinders te lees wanneer hulle die biblioteek besoek.

Daar was ook heelwat aktiwiteite rondom die biblioteekweek. Die kinders het hul self oortref met die maak van boekmerke uit roomysstokkies, spaarbussies van ou blikkies, 'n kat uit 'n appel, 'n krimpvarkie uit 'n aartappel, botterblomme van papier en wurmpies uit eierdosies. Heerlike pryse is gewen. Elke persoon wat die biblioteek besoek het, het 'n sak en 'n stokkielekker gekry.

Die biblioteek spog ook met 'n splinternuwe grasperk, 'n rotstuin en 'n tuinbankie, en is voorwaar 'n wonderlike toevoeging tot Leeu-Gamka.

No comments: