Sunday, June 29, 2008

Munisipale Nuus

GRYSWATER

‘n Klagte wat met tye ontvang word is probleme rakende die onbeheerde uitloop van gryswater.

Gryswater word deur sommige persone aangewend vir die natlei van bome en plante om sodoende water te bespaar. Dit dien egter vermeld te word dat die uitloop van gryswater ’n potensiële gesondheidsrisiko, asook reukoorlaste, kan meebring indien die uitlaat daarvan nie goed bestuur word nie en poelvorming, ens. gevolglik sou voorkom.

Inagenome die “uniekheid” van ons streek, plaas die Grondwet en toepaslike gesondheidswetgewing egter ’n verpligting op elke landsburger om ’n omgewing te skep, in stand te hou en te bevorder wat nie skadelik vir die gesondheid of algemene welsyn van die publiek is nie.

Prince Albert Munisipaliteit rig ‘n versoek dat indien daar wel van vermelde praktyke gebruik gemaak word, dit egter goed bestuur moet word om poelvorming te voorkom en die windrigtings, t.o.v. reukoorlaste, in gedagte gehou moet word.

U samewerking in die verband sal waardeer word.

TUINVULLIS

Klagtes word met tye ontvang van hope tuinvullis wat in gemeenskappe voorkom. In sekere gevalle word tuinvullis gebruik vir die maak van kompos. Daar moet dan egter van korrekte komposteringspraktyke gebruik gemaak word en dit moet goed bestuur word.

Prince Albert Munisipaliteit is ten gunste van goedbestuurde komposteringspraktyke, maar nie ten opsigte van die ophoping van tuinvullis waar sodanige hope aanstootlik is, ‘n potensiële brandgevaar is of as broeiplek vir vektore / plaagdiere kan dien nie.

Die Grondwet en toepaslike gesondheidswetgewing plaas ’n verpligting op elke landsburger om ’n omgewing te skep, in stand te hou en te bevorder wat nie skadelik vir die gesondheid of algemene welsyn van die publiek is nie.

Om potensiële oorlaste en gevare te voorkom, versoek die Raad dat tuinvullis wat nie gebruik word vir kompostering nie, na die munisipale stortingsterrein verwyder moet word waar dit op ‘n geskikte area gestort moet word.

U samewerking in die verband sal waardeer word.

VERBRANDING VAN VULLIS EN BUITEBANDE

Verskeie klagtes is die afgelope tyd ontvang vanaf ongelukkige inwoners. Hulle kla dat omliggende inwoners vullis en buitebande onwettig brand steek binne hul erwe. Dit veroorsaak baie rook en is onaanvaarbaar vir die gemeenskap, aangesien dit ook hul gesondheid mag beïnvloed.

Hierdie verbranding van vullis en buitebande in die woonbuurte, asook deur die publiek op die vullisstortingsterrein, is vir Prince Albert Munisipaliteit ‘n groot bekommernis. Die rook skei giftige gasse af wat baie skadelik mag wees vir persone wat dit gereeld of in groot hoeveelhede inneem. Verder veroorsaak dit ook “Green House”-gasse wat skadelik is vir die omgewing en globale aardverwarming (Global Warming) aanhelp.

Prince Albert Munisipaliteit vra asb. alle inwoners se samewerking in die verband. Indien u bewus is van enige persone wat hul nogtans skuldig maak hieraan, kan u die Munisipale kantoor kontak, waarna die saak opgevolg sal word en ooreenkomstig opgetree sal word, indien nodig.

Kom ons werk almal saam om te verseker dat almal in ‘n gesonde, skoon en veilige omgewing lewe! Nou en ook in die toekoms!

No comments: