Sunday, June 29, 2008

Designer Labels

Designer Labels
Die Jeug is tog nie so verkeerd nie!

- Lettie Breytenbach -

Almal wat met kinders/jongmense winkels toe gaan is sekerlik oorbekend met die missie van…designer labels. So ‘n inkopietog kan in ‘n nagmerrie of gesinskonflik ontaard as Boetie nou nie daardie korrekte etiket tekkies, Sussie nie die Hip-Hoprokkie (meeste van die tyd ook maar virtueelwerklik) kry nie!

As Pa dan nou ook nog aandring op daardie Wrangler-jeans–en nr!, maar intussen het die omtrek gerek, Ma soek net daardie spesifieke onderlaag en Kleinstetjie wil die nuutste in Nintendo-tegnologie, en niks anders nie, hê; is Something Fishy regtig something fishy.

Pa, Ma en Kleinstetjie mag moontlik nog “tot later” oorreed word … maar die tieners nooit en die labels is belangrik … al lyk Boetie se skoensole soos trekkerbande wat deur hoogwater moet loop en Sussie se skoenpunte goed vir goggas doodtrap in die hoek! “Almal dra dit Ma…moet tog nie so outyds wees nie!”

My standpunt was altyd: “Dare to be different”, moenie so konformerend wees dat jy in die bondel verdwyn nie. Jy is uniek geskape, met besondere gawes en talente, gebruik dit om ‘n verskil te maak. Gesagsfigure in die Bybel en deur die geskiedenis het juis dit gedoen. Maar…die gelykenis van die groot maaltyd in Matt.2.1-14/Luk.14.15-22 konfronteer hierdie denke.

Dit was die gebruik dat die gasheer sy gaste elkeen met ‘n bruilofskleed voorsien by die deur, sodat almal feestelik eenders sou wees; geen verskil tussen ryk en arm. Die enkeling wat binnegesluip het met sy eie unieke kleding het soos ‘n groot puisie uitgestaan…het nie ingepas in die omgewing nie. Die kruks van die saak is, vir die fees saam met die Koning moet jy designer label klere dra; klere wat wit gewas is in die bloed van die Lam (Jesus) (Open.7:14). In die storie was baie uitgenooi, maar min het die uitnodiging aanvaar, daar was so baie geldige verskonings.

Uitnodigings word nou nog gerig. In Open.5:4-5 lees ons dat die wat hulle uitnodiging aanvaar geklee word met wit klere. Meer nog, hulle name word in ‘n gasteboek, die Boek van die Lewe, verewig.

En die menigte wat die fees bywoon is vrolik, hulle is bly dat hulle die uitnodiging aanvaar het, “redding kom van God” roep hulle uit en waai palmtakke, die designer labels was reg … merk van die Lam.

Die jeug is reg. Designer labels is belangrik…baie belangrik. Gaan net na die regte shopping mall en kry die gratis specials by ‘n eerlike boetiek, Jesus en sy Kerk.


No comments: