Sunday, June 29, 2008

Lah-di-dah – ons fênsie nuwe padstal

- Denise Ohlson -

‘n Gedugte span maak 28 Junie die deure oop van lah-di-dah – ‘n fênsy plaasstal op die bodraai van Kerkstraat. Eienaars Johnny en Yvette Breedt kom bou‚ saam met Yvette se ma, Martie, ’n hele nuwe toekoms op die pragtige perseel met sy leidam omsoom met Wilgerbome en mooi uitsigte.

Uit die asse van die ou Sampies gaan ʼn feniks verrys wat met sterk vlerke gaan vlieg onder leiding van die drie eks-Johannesburgers en die twee plaaslike aanstellings Sophie Isaacs en Lucinda Booyens.

Johnny is en bly steeds ’n produksie-ontwerper van (meestal) internasionale films, maar sal elke sekonde wat hy kan afstaan, in hul padstal wees om sy bydrae te maak. Yvette, wat die koöperatiewe wêreld vaarwel toegeroep het as gesoute persoonlike assistent van die besturende direkteur van die reuse Sasol Synfeuls International, borrel oor van idees en planne vir die stal en Martie van der Merwe se werkywer en onderskraging voltooi die trio.

Johnny en Yvette het reeds in 1998 ʼn huis in Markstraat gekoop as vakansiebestemming, maar van einde Junie is hulle sakelui op die dorp en ʼn permanente wins vir Prince Albert.

By lah-di dah gaan daar aandag gegee word aan detail, en woorde soos heerlik, interessant, vrolik, energiek, smullekker, vriendelik, en (veral!) bekostigbaar, gaan die motto wees. Geskenke, allerhande dinge en goeters, ingemaakte en vars produkte, gebak, koffie en tee, ligte middagetes, ontbyte – gaan loer maar in, luier en kuier en snuffel gerus!

No comments: