Sunday, June 29, 2008

Museumnuus: “Holy Cow – Time Travels are great!”

Op Dinsdag, 3 Junie, vertrek twee van my kollegas, Mary Ann en Lydia, om ‘n museumsim-posium in George by te woon. Die dames het hulle vooraf geestelik voorberei vir ure se stilsit en luister: Museumregulasies en baie ander dingetjies sou bespreek word…

Hulle kom drie dae later terug, en lyk glad nie soos mense wat ‘n vervelige tyd agter die rug het nie! Inteendeel, hulle vertel opgewonde van al die nuwe verwikkelinge in die wêreld van museums en die groot taak wat op óns wag. Verbeel jou!

Ons kinders leer elke jaar, graad vir graad, ‘n bietjie meer van ons land en sy mense, later van ander lande en húl mense se geskiedenis. Die meeste leerders vind dit uiters vervelig en verloor iewers langs die pad belangstelling. Datums, name van groot leiers, oorloë wat reeds verby is, name van verre lande en dorpe waar geskiedenis gemaak is, álles moet gememoriseer word sodat die arme bloedjies daaroor eksamen kan skryf … nie baie aangenaam nie! Selfs die ouers wat help om hul kinders se koppe vol inligting te stop, is senu-wrakke!

Kan die probleem opgelos word?

Museums van regoor die wêreld span nou saam om die “dooie verlede” weer vir kinders ‘n lewendige, interessante ervaring te maak. Sewe stappe sal gevolg word, en glo my, harde werk lê voor. Daar gaan nie ‘n ekstra vak aangebied word nie, slegs ‘n ander metode van onderrig sal gebruik word om die vak vir leerders genotvol te maak.

Elke museum gaan met sy omliggende skole saamwerk. Historiese plekke in die omgewing, naby die skole, sal geïdentifiseer word vir die verskillende projekte.
Die museum doen navorsing met behulp van sy eie argief.
Lees en vertolk die landskap vir historiese gebeure wat hom leen tot die leerplan van die skool.
Onderwyser onderrig leerders oor die onderwerp wat gekies is.
Lig onderwysers en helpers in oor wat van hulle verwag word.
Gaan nou op reis, die verlede in, met die hulp van ‘n toneelstuk, geskryf vir dié spesifieke tyd en gebeure wat vooraf gekies is.

Voorbeeld: Hoe het die mense van Prince Albert in 1778 geleef. Hoe het hulle aangetrek, gepraat, hoe is die kos voorberei? Die leerders trek die klere van daardie tyd aan, en verrig die take wat kinders van daardie tydgleuf moes kon doen, bv. help om seep te maak, water aan te dra, iets vir die pot te gaan skiet, knie en brood bak in ‘n buite-oond, diere versorg, die koei of bok te melk, en vele meer.

-Evaluering. Kinders wat die geskiedenis “geleef en beleef” het, kan nou hul huidige lewenstyl vergelyk met dié van kinders wat in 1778 geleef het. Hulle het nou geleer deur “te doen”. Vaslegging!

Die reaksie van kinders regoor die wêreld, waar hierdie metode reeds gebruik is?

“I must say I learnt ten times more in one day about life of a family a hundred years ago, than I learnt from ten lessons of meaningless talk at school. Holy Cow – Time travels are great!” (Leerder, 15 jaar oud)

Daar is baie talentvolle mense in Prince Albert wat mettertyd vir hulp genader sal word. Saam kan ons ‘n verskil maak. Dit is tog belangrik dat ons kinders belangstel in die verlede en kennis dra van hul voorgeslagte. Die verlede vorm die fondament waarop ons kinders hul toekoms moet bou.

Museumgroete
Debbie Badenhorst

No comments: