Sunday, June 29, 2008

Ons Nuwe Dominee

In ‘n klein dorpie soos Prince Albert is die ontvangs van 'n nuwe Dominee ‘n besonder nuuswaardige gebeurtenis. Die Vriend het onlangs lekker gesels met die VGK se ds Nico Cloete:

Baie gemeentelede was moedeloos en hartseer na die afsterwe van ons geliefde ds Cyril Afrika, "Wie kan in sy groot voetspore trap?" was die algemene bekommernis. Ek is bly om die gemeenskap te kan gerus stel dat ds Afrika se opvolger deeglik bewus is van die groot taak wat nou op sy skouers rus.

Op William en Romy se stoep gesels ek en Nico oor sy nuwe roeping. Op die oog af is hy 'n vriendelike, kalm, selfbeheersde en gemaklike mens, ten spyte van die stres wat enige oorplasing noodwendig veroorsaak. 'Kan dit so wees?' vra ek vir myself. Toe tref dit my dat Nico te jonk is om stres ernstig op te neem en selfs om 'die nuwe Dominee' te wees! Met 'n glimlag stel hy my gerus, asof hy my gedagtes kan lees.

Nico is op Saron naby Porterville gebore en het ook daar skool gegaan. Sy vorige gemeente was in Montagu. Hy is begeesterd oor plekke waar mense mekaar ken en waar hulle nog tyd het om die belangrike dinge in die lewe te waardeer. Sy vrou, Kelly, wat nog besig is met haar studies aan die Universteit Wes-Kaap, hou ook baie van die lewensstyl op die platteland en sal haar binnekort by hom aansluit.

Op my vraag oor wat hy as die uitdagings van sy rol op Prince Albert sien, antwoord hy dat dit sy benadering is om die gemeenskap te dien en nie andersom nie. Hy sien sy eerste uitdaging om aan te gaan met ds Afrika se uitstekende werk. Verder wil hy liewers by die gemeenskap self hoor wat hulle behoeftes is. Sy eerste waarneming is dat daar, soos in baie ander plekke in Suid-Afrika, 'n ernstige nood is om die omstandighede te skep waar jong mense goeie onderwys en leiding kan kry om werkloosheid te bekamp. Daarsonder word probleme soos kriminaliteit, alkoholisme en ander onwenslike en vernederende sosiale probleme al hoe groter, verduidelik hy.

Die goue draad wat deur ons gesprek loop, is sy respek vir mense en vir die individu. Hy huiwer om mense in kategorieë te plaas, maar wil liewers dien waar die gemeenskap vir hom wys dat daar 'n nood is. Sodoende sal dit moontlik wees om 'n holistiese gees in die gemeente en in die breër gemeenskap te bevorder. Nico is getref deur die warm verwelkoming deur die gemeente en veral die jong mense in Prince Albert en is begeesterd deur die werk wat ons jong mense hier doen. Hy sien dit as sy taak om hulle aan te moedig in hulle pogings om almal se lewensomstandighede te verbeter.

No comments: